Raadslede en inwoners van die Nelson Mandelabaai-metro was Donderdag steeds geskok ná die dood van die metro se voormalige burgemeester, Mongameli Bobani.

Wyle Mongameli Bobani Foto: Argief
Bobani (52) is Dinsdagaand in die St. George-hospitaal in Port Elizabeth dood nadat hy Covid-19 opgedoen het. Hy was drie weke onder verdowing en aan ’n ventilator gekoppel.
Bobani was lid van die United Democratic Movement (UDM) en was sedert 2002 ’n lid van die metroraad.
Bantu Holomisa, nasionale leier van die UDM, sê Bobani het die UDM aan die gang gehou nadat die party in 1997 gestig is.
Volgens Holomisa sal hulle seker maak daar word op ’n gepaste wyse van hom afskeid geneem.
“Ons hoop dat sy nalatenskap sal voortleef en dat ander raadslede in sy voetspore sal volg, veral die manier hoe hy homself beskikbaar gestel het wanneer inwoners van Nelson Mandelabaai hom nodig gehad het.”
Bobani is as burgemeester van die metro aangestel nadat sy voorganger, Athol Trollip, in Augustus 2018 uit dié amp onthef is. Sy ampstermyn was egter van korte duur, want hy is in Desember 2019, nes Trollip, by wyse van ’n wantrouemosie uit die kussings gelig.
’n Hofsaak het gevolg kort nadat Tshonono Buyeye tydelik die leisels by Bobani oorgeneem het, maar dit is nooit afgehandel nie.

Bantu Holomisa Foto: City Press
In Augustus is Bobani as die burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese aangestel.
Danie Gouws, Bobani se prokureur, sê Bobani was nie net ’n kliënt nie, maar ook ’n vriend. Volgens hom is Bobani se dood ’n verlies vir die hele Oos-Kaap.
Mandlakazi Skefile, hoof van die Nelson Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap (MBDA) se raad, het namens die MBDA medelye met Bobani se familie, vriende en kollegas betuig.
“Ons wens sy familie sterkte toe gedurende die moeilike tyd.”
Die metro het sy beurt gesê Bobani se dood laat ’n diep wond en dat sy energie en geesdrif nooit vergeet sal word nie.
“Bobani word onthou as ’n vreeslose dienaar van die mense. Hy het sy lewe daaraan gewy om arm en vergete mense se lewe te verbeter.
“Ons bid dat sy familie krag en genesing sal vind in die wete dat hy tot op die laaste vir die armes geveg het,” lui die metro se verklaring.
Daar is teen Donderdag nog geen begrafnisreëlings bekend gemaak nie.