Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bobani met die rooi das gehuldig as doelgerigte politikus
Ongezwa Jack, ’n dogter van Mongameli Bobani, het Vrydag tydens haar pa se begrafnis vertel hoe sy hom sal onthou. Regs van haar staan haar sibbe, Sesihle, Thembeka en Thembelani Bobani, elkeen met ’n rooi das aan, wat hul pa se gunstelingdas was. Foto: Lulama Zenzile

Ondanks bewerings van betrokkenheid by ’n bedrogsaak, is die Nelson Mandelabaai-metro se voormalige burgemeester Vrydag tydens sy begrafnis as ’n vriendelike, doelgerigte politikus met unieke metodes beskryf.

Die UDM se Mongameli Bobani (52) is verlede week in ’n hospitaal in Port Elizabeth dood nadat hy einde Oktober Covid-19 opgedoen het.

’n Lang stoet, insluitend ’n brandweerwa, het Vrydagoggend vanaf sy huis in KwaMagxaki die lykswa tot by die Veremark-saal in Port Elizabeth gevolg.

Ingevolge die Covid-19-regulasies is slegs 100 mense binne die saal toegelaat, maar UDM-ondersteuners het steeds in groot getalle buite die saal saamgedrom en liedere gesing.

Tydens die begrafnisdiens het die nuus gebreek dat Bobani die tiende verdagte sou wees wat Vrydag saam met nege ander munisipale amptenare en sakelui in hegtenis geneem sou word in verband met beweerde bedrog rondom die metro se geïntegreerde openbare vervoerdiens (IPTS).

Tog het Bantu Holomisa, leier van die UDM, gedurende die begrafnisdiens Bobani as ’n vegter teen korrupsie beskryf.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het ook tydens Mongameli Bobani (op die foto) se begrafnis gepraat. Foto: Lulama Zenzile

“Hy het ook nie geskroom om oortredings te ontbloot nie. Hy het selfs na die openbare beskermer en die Valke gegaan om korrupsie binne die munisipaliteit aan te meld, en het kwessies getakel wat hom soms in sekere kringe ongewild gemaak het,” het Holomisa gesê.

Enkele weke voordat Bobani siek geword het, het Holomisa hom in Port Elizabeth ontmoet waar hulle met fluitjieblasers gepraat het. “Ons het saam ’n voorlegging vir die Zondo-kommissie gemaak waarin ons onthul hoe openbare geld na die sakke van politici herlei is.”

Holomisa het nie verder hieroor uitgewei nie, maar gesê noudat Bobani nie meer hier is om te sien of adjunkhoofregter Raymond Zondo die saak sal hanteer nie, sal die UDM die kwessie ter nagedagtenis aan hom hanteer.

Hy het Bobani verder beskryf as ’n lid wat die party in die gebied laat groei het, gedryf deur sy behoefte om inwoners te help, selfs nog tot die dag wat hy siek geword het.

“Een ding is vir seker, enigeen wat sy pad gekruis het, het ’n sterk mening oor hom. Hy het nogtans steeds meer vriende as vyande gemaak.”

Thsonono Buyeye, waarnemende burgemeester sedert Bobani in Desember 2019 uit die amp onthef is, het gesê ondanks Bobani se onkonvensionele werksmetodes het hy die werk gedoen gekry.

“Ek dink baie het hom misverstaan. Maar dié wat hom en sy agtergrond geken het, sou sy werksmetodes verstaan.”

Nosakhele Bobani, Mongameli se vrou, ontvang Vrydag ’n foto en blomme tydens die begrafnis. Foto: Lulama Zenzile
Ondersteuners van die UDM wat weens die beperkte ruimte nie Vrydagoggend in die Veremark-saal kon ingaan nie, het buite gestaan en sing terwyl Mongameli Bobani se begrafnisdiens gehou is. Foto: Lulama Zenzile

Bobani was volgens hom ’n dienaar van inwoners, wat sonder skroom gemeenskappe sou besoek wat probleme ervaar, en selfs in die nag nie sonder ’n das by gemeenskapslede opdaag nie.

Saam met hul rouklere het Bobani se kinders Vrydag rooi dasse gedra, omdat sy rooi das sy gunsteling was.

Ongezwa Jack, een van Bobani se kinders, het borrelend van haar pa se “wonderlike” humorsin gepraat en vertel hoe hy tuis ’n toegewyde pa en liefdevolle man was.

“Hy was altyd ’n optimis, in elke situasie. Hy het ons van harde werk en nederigheid geleer. Hy was ook ’n goeie luisteraar, wat elkeen van ons geleer het dat geen droom té groot is nie.”

Bobani laat sy ouers, sy vrou, Nosakhele, hul vier kinders, en sy twee kleinkinders agter.

Meer oor:  Koronavirus  |  Mongameli Bobani  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.