Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bobby maak siek 11-jarige se droom waar

’n Bloemfonteinse meisie se droom het Saterdag waar geword toe sy as deel van haar Reach for a dream-bederfdag die dag saam met haar gunsteling Afrikaanse sanger kon spandeer.

Amy Hunter (11), ’n gr. 5-leerling aan die Laerskool Fichardtpark, kon haar oë nie glo nie toe sy by die Koekela-huiskafee instap en Bobby van Jaarsveld vir haar daar staan en wag.

Amy Hunter (11), wat in 2015 met Fanconi Anemie gediagnoseer is, gee vir Bobby van Jaarsveld, haar gunsteling sanger, ’n stywe druk. Hulle het Saterdag saam kuns gedoen as deel van haar droom wat bewaarheid is. Links is Amy se kunswerk en regs is Bobby s’n. Foto: Mlungisi Louw

“My maag het sommer allerhande bewegings gemaak,” sê sy.

“Ek kan die helfte nie eers onthou nie, want die oomblik was só groot.”

Amy is in 2015 met Fanconi Anemie gediagnoseer.

Haar ma, Elsa, sê dit beteken dat sy ’n beenmurgoorplanting moet kry.

“Dit is ’n genetiese siekte. Haar beenmurg werk nie soos wat dit moet nie,” sê sy.

“Met ander woorde dit vervaardig nie genoeg rooi- en witbloedselle en plaatjies nie. Sy kan enige oomblik net spontaan begin bloei. Dit is lewensgevaarlik.”

Amy kan nie meer sport doen nie.

“In 2015 het sy gimnastiek gedoen en haar neus het net erg begin bloei. Nadat ons haar by dokters gehad het, het hulle haar gediagnoseer.

“As ouers skrik jy, want ons het nog nooit daarvan gehoor nie.”

Ek kan die helfte nie eers onthou nie, want die oomblik was só groot.
Amy Hunter

Nie Elsa, Amy se pa, Gary, of haar ouer boetie, Regan (12), is ’n geskikte skenker nie.

Maar ten spyte van dit alles, was Amy in Julie 2016 laas in die hospitaal.

Bobby sê dis vir hom ’n voorreg om deel van iets te wees wat Amy so gelukkig maak.

“Toe ek hoor ek gaan saam met haar kuns doen, het ek ’n bietjie geskrik, want ék kan nie teken nie,” sê hy.

“Kyk hoe mooi is haar prentjie.”

Hy wys na Amy se hondjie en skilpad met ’n horing – of eerder uni-turtle – en dan na sy eie. Sy canvas is getooi in verskillende kleure kolle.

“Amy, jy kan wel nie so mooi sing nie, maar jy teken báie mooi,” sê Bobby vir Amy.

Marius Jansen van Vuuren, ’n Bloemfonteinse beeldhouer en grafitti-kunstenaar, het die laaste afwerking op Amy en Bobby se kunswerke gedoen.

Yolanda Maartens Brown, bestuurder van die Bloemfonteinse Reach for a Dream-tak, sê Amy se aanvanklike droom was om ’n sjokolade croissant op die Eiffeltoring in Parys te eet.

“Maar haar dokter wou dit ongelukkig nie afteken nie. Daarom het ons ’n ander droom van haar waar gemaak,” sê sy.

Amy sal haar eie kunswerk huis toe vat terwyl Bobby s’n in Reach for a Dream se kantoor sal hang.

Tydens die Ek Lief die Vrystaat-vertoning Saterdagaand, het Bobby ook Amy se gunsteling liedjie, Butterflies, aan haar opgedra.

Meer oor:  Bobby Van Jaarsveld  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.