Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bobby onttrek aan AIG-konsert

Bobby van Jaarsveld is op verpligte stemrus. Die gewilde sanger, wat al vir ’n paar jaar met ’n mantelvliesbreuk en refluks sukkel, moet nog tot Meimaand wegbly van die mikrofoon om te verhoed dat sy stembande beskadig word.

Bobby en sy vrou, Annatjie, op Ballito se strand.

“Dis vir my baie sleg, maar ek gaan dus ook nie kan deelneem aan die Afrikaans is Groot (AiG)­- konserte oor ’n paar weke in Pretoria nie en ook nie volgende jaar Maart in Kaapstad nie,” het hy aan Rapport gesê.

Van Jaarsveld gaan binne die volgende twee weke waarskynlik weer geopereer word vir die mantelvliesbreuk waarmee hy al vir jare sukkel.

“Dis ’n genetiese probleem in ons familie en ek het my eerste operasie gehad toe ek 18 jaar oud was. Weens die breuk sukkel ek ook met refluks.” (’n Toestand waarin suur terugvloei in die slukderm na jou boonste lugweg).

Van Jaarsveld sê die suur kan jou stembande brand en beskadig.

“Daar makeer tans niks met my stembande nie, maar ek kan permanente skade opdoen as ek nou sing of byvoorbeeld hard skree.”

‘Ek kan kyk as die kinders rugby speel.’

Sy spesialis het aanbeveel dat hy vir minstens ’n jaar glad nie sing of goed doen soos gil en skree nie terwyl hy die regte behandeling kry, anders kan dit permanente skade aanrig.

“Dit was ’n baie moeilike besluit en dit breek my hart dat ek nie aan AiG kan deelneem nie, maar ek glo dit was die beste besluit. Dit help nie om jou kop te breek oor goed waaroor jy nie beheer het nie.

“Om te sing bly my passie, daarom is dit belangrik dat ek nou alles doen wat nodig is om te verseker dat ek teen Mei volgende jaar weer kan begin optree.” Hy is positief en glo dat alles ten goede sal uitwerk soos dit moet.

Bobby sê dit was baie moeilik om nie die afgelope tyd saam te skree terwyl die Bokke in die Wêreldbeker gespeel het nie.

Bobby van Jaarsveld en sy drie kinders kyk na nog ’n mooi sonsondergang op Ballito se strand.

“Ons kyk eintlik glad nie televisie nie, maar ek en my drie kinders, Sion (8), Leben (6) en Armani (3), is verslaaf aan rugby,” sê Van Jaarsveld en lag. Dit mag hy darem nog doen.

Hy en sy gesin het sowat ’n jaar gelede Ballito toe getrek.

“Die lewe hier is baie rustiger en die vars lug en buitelewe is baie goed vir die hele gesin. En noudat ek my stem moet rus, het ek tyd om saam met my kinders deur te bring en kan gaan kyk as hulle byvoorbeeld rugby speel by die skool.

“Ons gaan gereeld strand toe, vang vis, swem in die see en speel natuurlik rugby op die strand.

“En al kan ek nie nou sing nie, doen ek nie niks nie. Ek en twee vriende het ’n onderneming, Stouff, wat keramiek­braaiers verkoop.”

Meer oor:  Bobby Van Jaarsveld  |  Mantelvliesbreuk  |  Stemrus  |  Refluks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.