Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer bieg oor dubbele lewe ná vriend hom skiet

’n Boer van die Biesiesvlei-omgewing in Noordwes wonder soms of dit die moeite werd was om uit die kas te klim nadat hy in die hof moes getuig hoe ’n voormalige vriend hom byna doodgeskiet het.

Mpho Gift Noko is verlede week in die landdroshof in Lichtenburg tot ses jaar tronkstraf gevonnis weens poging tot moord, sê kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Frans van der Linden is deur sy familie verwerp nadat hy uit die kas geklim het. Foto: Verskaf

Frans van der Linden het Woensdag openhartig vertel hoe almal in sy nabye familiekring hom verwerp het toe hy ná die skietvoorval in April 2016 erken het hy was seksueel betrokke by Noko. Hulle was egter nooit in ’n vaste verhouding nie.

“Ek het openlik hieroor in die hof getuig. Dit was verskriklik en erg vernederend, die hele gemeenskap het daaroor gepraat.”

Van der Linden en sy vrou is reeds in 2014 geskei nadat hy teenoor haar erken het hy is gay.

“Ek het vir 20 jaar probeer verander weens druk van die kerk, en omdat ek lief is vir my vrou en ons twee kinders. Ná die skietvoorval in 2016 het ek die hele groter familie bymekaar gekry. Ek het hulle van my oriëntasie vertel en dat dit ’n groot fout was om by Noko betrokke te raak. Ek kon nie meer ’n leuen en dubbele lewe leef nie, en het hul vergifnis en ondersteuning gevra.”

Sy familie en die plaaslike gemeenskap het egter so negatief reageer dat Van der Linden soms wonder of dit die moeite werd was om oop kaarte te speel.

“Partykeer dink ek dit sou beter gewees het as ek doodgeskiet is – ek het almal verloor. Hulle wil niks met my te doene hê nie. Ek was nie eens by my dogter se troue nie. Ek en my man woon nou in Mahikeng, my varkplaas naby Biesiesvlei word hierdie week nog opgeveil.”

Frans van der Linden het in April 2016 ná ’n skietvoorval met sy bakkie deur ’n muur geploeg. Foto: Verskaf
Die gat in die muur waardeur Frans van der Linden in April 2016 met sy bakkie gery het nadat hy weens bloedverlies flou geword het.Foto: Verskaf

Van der Linden, wat nou as ’n aandelemakelaar werk, sê hy het Noko ontmoet toe hy hom ’n saamrygeleentheid van Lichtenburg na Coligny gegee het.

“Hy het my van sy lewe en familie vertel. Ons het daarna by geleentheid seksuele omgang gehad. Ek het hom en sy familie ook geldelik ondersteun. Hy het later ’n obsessie ontwikkel om in ’n verhouding met my te wees, maar ek wou nie en het alle kontak met hom probeer verbreek. Hy het egter sy nommer gereeld verander en my aangehou bel.”

Frans van der Linden woon nou saam met sy man in Mahikeng. Sy plaas naby Biesiesvlei word vandeesweek opgeveil.Foto: Verskaf

Van der Linden sê Noko, wat by ’n veiligheidsmaatskappy in Johannesburg gewerk het, het een Sondag in April 2016 op sy plaas opgedaag.

“Ek het weer vir hom gesê ek wil niks van hom hoor of sien nie, want hy soek altyd net geld. Toe vra hy ek moet hom net in Biesiesvlei gaan aflaai. Op pad soontoe het hy gevra ek moet stilhou. Hy het weer begin stry en gesê hy weet nie wat fout is met my nie, hy wil omgang hê. Ek het nee gesê en toe pluk hy ’n wapen uit.”

Noko het Van der Linden in die arm en been geskiet.

“Hy wou terugklim in die kar en ek het geweet hy sal my doodmaak. Die bloed het die hele bakkie vol gespuit. Ek het weggejaag terwyl die deur nog oop was. Hy het uitgeval en weggehardloop.”

Van der Linden het na die polisiekantoor in Biesiesvlei gejaag, maar op pad daarheen weens bloedverlies flou geword en deur ’n klipmuur gery. Sy bakkie is afgeskryf. Die polisie en die gemeenskap het Noko later die dag vasgetrek.

Van der Linden sê hy het fisiek ten volle herstel, maar worstel daagliks nog met die verwerping en vernedering tydens die hofsaak.

“Noko het soveel leuens in die hof vertel, soos dat ons sou trou en dat ek vir hom sou sorg. Hy was obsessief.”

Meer oor:  Mpho Gift Noko  |  Frans Van Der Linden  |  Biesiesvlei  |  Rusie  |  Dubbele Lewe  |  Minnaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.