Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer dood ná hy ure in son lê
Die Kroonstadse boer Boetie Pretorius (81) is Sondag oorlede.

’n Saaiboer van Kroonstad is dood nadat hy verlede week erge sonbrand en hitte-uitputting opgedoen het toe sy motor buite Vredefort in ’n sloot beland het.

Die 81-jarige Boetie Pretorius se seun, Roelf, sê sy pa het vir ’n vriend van hom, Peet Keiser, by Vredefort gaan kuier.

Keiser het nie geweet Pretorius is op pad na hom toe nie, en die plaashek by die grootpad was gesluit, sê Roelf.

“My pa ken die oom se plaas soos die palm van sy hand en wou met ’n ompad tot by hom ry.”

Die lyndrade is egter verskuif en Pretorius moes in ’n stadium omdraai.

“My pa het met die omdraaiery in ’n sloot beland en vasgesit. Hy het stompe, klippe en selfs die kar se rubbermatjies onder die wiele gesit om te probeer uitkom.

“Met die gespook het hy inmekaargesak en homself so uitgeput dat hy baie lank in die son gelê het,” sê Roelf.

Roelf sê hy het intussen na sy pa begin soek en op boere se WhatsApp-groepe gevra dat mense op die uitkyk vir hom moet wees.

Iemand het Roelf gehelp om sy pa deur middel van die selfoon se ligging op te spoor waarna hulle hom gekry het.

“Hy was in ’n baie slegte toestand. Hy het swaar asemgehaal en is deur die son verbrand,” sê Roelf.

“Maar dis hoe my pa was, hy het nie sommer vir hulp gevra nie. Die son het hom blase gebrand.”

Boetie Pretorius (81) van Kroonstad is oorlede.

Roelf en sy suster, Elsabé, het by hul pa se hospitaalbed gewaak waar hy Sondagoggend oorlede is.

Roelf sê ander boere het baie respek vir sy pa gehad.

“Hy het geleef vir saaiboerdery en hulle het gesê hy kan ’n mieliepit op ’n klip neersit, dit sal groei.”

Pretorius het die laaste vier jaar sy lande verhuur, maar was nog baie aktief op die plaas.

“Hy het gesê daar staan nêrens in die Bybel dat ’n mens op 60 moet aftree nie.”

Roelf is die eienaar van die Rust Brahmane-stoetery.

Sy ma, Sarie, is ’n paar jaar gelede dood en was ook ’n bekende Brahman-teler.

Pretorius word Donderdag om 11:00 uit die NG kerk Kroonstad-Noord begrawe.

Meer oor:  Boetie Pretorius  |  Kroonstad  |  Sterfgeval  |  Boer  |  Saaiboer  |  Motorongeluk  |  Sonbrand  |  Hitte-Uitputting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.