Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer dood nadat sy boerboel hom aanval
Piet Lategan by sy kleinkinders Jaco en Eugene Swanepoel.Foto: Verskaf

’n Bejaarde boer van die Noord-Kaap is dood nadat sy groot boerboelreun hom aangeval het. Hy was vermoedelik bang weens swaar weer.

Piet Lategan (80), ’n saaiboer van Tadcaster in die Vaalharts-gebied, is dood nadat Rex, die hond wat hy grootgemaak het, hom gebyt en heen en weer gesleep het. Die hond is van kant gemaak.

Annatjie Louw (50), een van Lategan se dogters, vermoed die harde reën en hael het die hond Vrydag laatmiddag ontstel.

Hy en sy verloofde, Santa Venter (64), het uitgestap om ’n voertuig onder die afdak met ’n kombers te bedek. Die hond het eers na Venter gehap, vertel Louw.

“Sy het hom weggestoot en toe gaan hy vir my pa.”

Dit het baie hard op die afdak gehael en die hond, wat baie bang was vir harde geluide soos dié van klappers en geweerskote, het Lategan aangeval en begin byt. Hulle het gesukkel om die hond van hom af te kry.

“Tannie Santa het hom geslaan, ook met die kierie. Rex was ’n groot boerboel, en sy kon hom glad nie van my pa afkry nie.”

Lategan is onder meer in sy gesig en aan sy nek en skouers gebyt.

“Die hond het hom heen en weer gesleep. Hulle was in ’n stadium in die huis, met die hond steeds bo-op hom.”

Rex het laat los toe hy ander honde gewaar. Dit is toe dat Venter Lategan aan die arm by die huis intrek en vinnig die veiligheidshek gesluit het.

Piet Lategan Foto: Verskaf

“Hy het dadelik weer hek toe gekom. Hy wou hom weer aanval.”

In die huis het Lategan water gevra. Venter het sy gesig met ’n waslap afgevee en die dokter gebel, wat hom na hul huis gehaas het. Hy is kort ná die dokter se aankoms op die toneel dood.

Die familie wag nog op die nadoodse ondersoek, maar hulle vermoed hy kon ook van skok gesterf het.

Volgens haar was sy hart egter nie swak nie. Hy het nog voluit geboer en was baie gesond.

“Ek weet nie hoekom Rex my pa aangeval het nie, want hy was ’n baie saggeaarde mens en lief vir diere. Dit is nie dat hulle hom sleg behandel het nie. Dit maak glad nie sin dat dit gebeur het nie.”

Die hond is van kant gemaak omdat hy steeds aggressief opgetree het en “glad nie homself” was nie.

Louw sal haar pa vir sy nederigheid, saggeaardheid en omgee-hart onthou.

Lategan word ook oorleef deur nog twee dogters, Betsie Swanepoel en Saartjie Steenkamp, sewe kleinkinders en ’n agterkleinkind.

’n Roudiens vind Vrydag om 10:30 in die NG kerk Tadcaster plaas.

Meer oor:  Hondaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.