SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Algemeen
Boer dood nadat tarentaal voor motorfiets invlieg
Flip Venter is dood weens beserings wat hy opgedoen het toe ’n tarentaal voor sy motorfiets invlieg. Foto: Facebook

’n Bekende boer en sakeman van Reddersburg is dood enkele ure nadat hy met sy motorfiets verongeluk het toe ’n tarentaal voor hom ingevlieg het.

Flip Venter (60), eienaar van die Bulberg-slagtery op die dorp, het Dinsdagoggend omstreeks 06:30 300m van sy plaashek beheer oor sy motorfiets verloor toe ’n tarentaal voor hom invlieg, sê Annemarie Liebenberg, sy suster wat in Bloemfontein woon.

“Die onverwagsheid daarvan is verskriklik.”

Dit moes ’n groot slag gewees het toe haar broer die ysterpaal so hard tref dat dit uit die grond geruk is, sê sy. “Hy is nie op slag dood nie. Hy kon nog met sy seun praat.”

Johan Venter (34), sy seun wat ook by die slaghuis werk, is ’n paramedikus en was vinnig op die toneel nadat ’n kennis wat op pad Bloemfontein toe was, hom gebel het.

“Sy het gesê daar lê ’n rooi motorfiets langs die pad,” sê Annemarie.

Hy het met sy pa na die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein gehaas.

Flip Venter het ’n ysterpaal 300 m van sy plaashek getref toe ’n tarentaal Dinsdagoggend voor hom op sy motorfiets invlieg. Foto: Facebook

“Dit was so onwerklik. Jy verwag die dokter gaan inkom en sê hy is verlam, of wat ook al, maar hy het ingekom en gesê ‘jammer, hy het te seergekry’.”

Johan sê sy pa was ’n uitstekende mens.

“Hy was ’n geliefde ou. Op die man af, jy het altyd geweet waar jy met hom staan.

“Hy het altyd tyd vir jou gehad.”

Hy was geskei en word oorleef deur sy pa, Klaas (89), ma Marie (80), en drie seuns, Johan, Ruan (29), ’n onderwyser op Upington, en Erno (27), wat in Amerika bly.

Venter is die oom van Tiaan (36) en Hercú Liebenberg (32), Annemarie se seuns wat onderskeidelik vir die Springbokke en die Cheetahs uitgedraf het.

Die roudiens word Saterdag om 11:00 by die NG kerk Reddersburg gehou.

Meer oor:  Reddersburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.