Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer gee raad ná hy self brand

Wanneer jy ’n veldbrand in bedwang probeer bring, kan jou klere die verskil tussen lewe en dood beteken.

Dit is van die raad wat ’n Vrystaatse boer, wat sowat twee jaar gelede ernstige brandwonde opgedoen het in ’n veldbrand, nou aan mense gee.

Mof Myburgh (68), ’n boer en veebemarker in die Kroonstad-distrik, beskryf 6 September 2018 as ’n dag van totale chaos toe ’n wind van 65 km/h skielik van rigting verander, maar spoed behou het.

Mof Myburgh het ten volle herstel ná die voorval. Foto: Verskaf

Ja, dis warm, maar ’n kortbroek is uit.

“Die meeste ouens loop hier buite rond met ’n kortmouhemp en kortbroek en party het sandale aan. Jy kan nie so na ’n brand toe gaan nie, jy soek jou dood,” sê Myburgh.

Hy sê dit is nie die moeite werd om kanse te vat nie.

Ná 23 operasies en tientalle dae in ’n geïnduseerde koma, sê Myburgh hy sou baie minder skade gehad het as hy die regte klere gedra het. Aan sy kleredrag was daar wel ook baie positiewe aspekte.

Alet van der Walt het destyds berig Myburgh het ernstige brandwonde aan sy linkerhand en -arm opgedoen en effens ligter, maar steeds ernstige brandwonde aan sy regterarm en -hand. Hy het ook derde- en vierdegraadse brandwonde oor nog 38% van sy lyf opgedoen.

Sy dokter het vir hom gesê daar is baie min mense wat soos hy brand en dit oorleef.

“Dat iemand daardie dag sou seerkry, was eintlik ’n gegewe. Ek het net nie geweet wie dit gaan wees nie.”

Hy sê die brand het sowat 10 km tot 12 km van hom begin en hy het dit help bestry.

“Die wind het gedraai, eensklaps, skielik. Waar hy sterk noordwes gewaai het, het hy skielik binne sekondes reg oos gedraai, sonder om spoed te verloor.”

Myburgh het juis geloop om iemand te waarsku dat hy te na aan die vlamme was toe hy self oorval is.

“Toe die wind draai, het ek onmiddellik besef – my weermagopleiding het ’n bietjie gehelp: Al kans wat ek het om te bly lewe, is om deur die vlamme te hardloop.

“Ek het nie in vlamme gebrand nie, ek het in hitte gebrand.”

So het Mof Myburgh se bene ’n jaar ná die voorval gelyk. Waar die synaat van sy broek was, van ’n dubbellaag katoen, was sy vel ongeskonde. Foto: Verskaf

Myburgh sê sy voete was ongeskonde ná die voorval omdat hy leerskoene en bokhaarkouse gedra het.

Hy het ’n denim-langbroek van katoen gedra, met ’n merkbare verskil op sy vel waar die dubbele laag katoen op die synaat was.

Bo-oor sy kortmouhemp van katoen het hy ’n oorpakjas van katoen en poliëster, “maar gelukkig baie katoen”, gehad.

“Toe ek deur die vuur hardloop, het ek my hoedjie gevat en voor my gesig gehou.

“Ek het nie hitte of rook ingeasem nie, gevolglik het my longe niks oorgekom nie.”

Sekondes ná die brand het hy nie besef hy is beseer nie.

“Ek het egter baie vinnig uitgevind daar is drasties fout.”

Myburgh sê elkeen wat ’n brand bestry, móét dié volgende byderhand hê: minstens ’n liter water, leerskoene of wol- of bokhaarkouse, verkieslik ’n katoenoorpak en leerhandskoene, en iets vir jou kop, soos ’n klapmus van katoen of wol.

“Daai goed moet sommer in jou werkswinkel bly.”

’n Veldbrand wat Sondag deur stormsterke wind voortgedryf is, het tienduisende hektaar langs die N6-snelweg suid van Rouxville in die Vrystaat bedreig. Foto: Charles Smith

Johann Breytenbach van die Vrystaatse Brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) sê mense is dikwels oorhaastig en begin brande bestry sonder dat enige behoorlike waarneming en beplanning gedoen word. Hy sê dit is uiters gevaarlik om sonder beskermde klere by brande op te daag.

Breytenbach sê sintetiese materiaal is baie gevaarlik, omdat dit in ’n mens se vel kan smelt.

Volgens hom beweeg brande maklik vinniger as 3 meter per sekonde teen temperature wat dikwels 500 °C oorskry.

Dra dié beskermende toerusting

Johann Breytenbach van die Vrystaatse Brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) sê die minimum beskermende toerusting wat mense na ’n brand moet dra, in ooreenstemming met die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, is die volgende:

• 100% katoen-oorpak met ’n T-hemp van 100% katoen onderaan as tweede laag;

• Leerhandskoene;

• Leerstewels;

• ’n Stofdigte en verkieslik vuurvaste veiligheidsbril;

• ’n Masker/bandana van lapstof;

• ’n Bos- of sonhoed van katoen; en

• ’n Gesigskerm en/of vuurvaste klapmus

Wees veral die naweek waaksaam

Kevin Ingram van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein sê die gevaar vir veldbrande in die sentrale binneland verhoog van Vrydag tot Sondag met temperature wat styg.

Dit geld veral in die noordelike dele van die Noord-Kaap, sentrale en westelike dele van Noordwes en ook noordwestelike dele van die Vrystaat waar temperature styg en sterker winde voorkom.

Ingram sê temperature sal hoofsaaklik bo 30 °C wees en in die Noord-Kaap en Noordwes bo 34 °C.

Meer oor:  Mof Myburgh
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.