As daar een ding is wat Kobus (53) van Boer soek ’n vrou-faam uit sy mislukte tweede huwelik geleer het, is dit dat dit beter is om te trou met iemand wat in dieselfde dinge glo as jy, sê hy.

Kobus en Michellé geniet ’n glas wyn.
Dit was hul verskillende geloofsoortuigings wat hom en sy tweede vrou uitmekaar gedryf het, sê hy.
“Sy het glad nie onrein [kos] geëet nie. Om jou ’n voorbeeld te gee: Glad nie vark, kreef, prawns, mossels, niks van sulke goed nie. Wanneer ek dit eet, dan word ek pak gegee,” vertel Kobus aan Rapport.
Hy sê hy het voor die troue nie mooi besef waarvoor hy hom inlaat nie.
“Dit het vir my oneindig traumaties geword en ek het net gesien dit gaan vir my groot probleme veroorsaak. Dit was die hoofoorsaak hoekom ek en my tweede vrou uitmekaar is.”
Kobus, wat ’n gemengde boerdery by Randfontein aan die verre Wes-Rand bedryf, het vier kinders en vier kleinkinders. Hy was 27 jaar met sy eerste vrou getroud voordat sy in April 2014 aan kanker dood is.
“Al drie het regtigwaar baie mooi skoon en netjies voorgekom.”
Sy soeke na nuwe liefde het hom gelei na kykNET se gewilde maatsoekreeks, waarin hy nou die oudste van die vyf deelnemers is.
Sommer met die intrapslag op Kobus se plaas was dit duidelik hý gaan die een wees oor wie kykers se tong klap.
Tydens die blitsafsprake het hy gesê “sexy” vroue trek sy oog. En toe die vroue dié week op sy plaas aankom, laat hoor hy: “Al drie het regtigwaar baie mooi skoon en netjies voorgekom.”
Hy verduidelik dit toe só: “ . . . dis belangrik. Ek soek nie ’n vrou wat net haarself mooimaak as sy die dag dorp toe gaan nie. Sy moet bereid wees om elke dag vir haar man ook haar beste te kan gee.”
Net daar trek die Facebook-kritici toe los. Dié kêrel is gans te begaan met die vroue se voorkoms, meen sommige.

Die vroue wat op boer Kobus se plaas gekuier het. Van links is Maxie, Michellé en Lynette.
“Soek hy dan net ’n trofee?” het een gesê.
“Glad nie, glad nie!” antwoord Kobus toe Rapport hom daaroor vra. Hy het dit nie neerhalend bedoel nie.
Die boer, wat 1,92 m lank in sy stewels staan, is eintlik ’n groot man met ’n klein hart. “Daai ou woordjie het hierdie ding uit verband geruk. Ek glo mens moet sexy van binne én buite wees. Dit moet gaan oor iemand wat aan die binnekant ook reg is; wie se geloof reg is en wie se vertroue reg is. Baie mense het my nou ’n pak slae gegee oor dit. Dit is maar net die woord wat ek op die oomblik gebruik het.”
En wat van daardie gewaagde grappie oor die wors later toe hy buite saam met die vroue gebraai het? Watwou! Dit was maar ’n klein deel van hul uitgerekte kuier langs die swembad, sê hy. Niemand daar het dit verkeerd opgeneem nie.
“Ek is nie ’n vulgêre ou nie; ek het respek vir enige vrou.”