Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer kry infeksie in wonde na hospitale sloer

Die wildboer van Limpopo wat verlede week geskiet en met ’n mes gesteek is toe drie mans hom en sy verloofde in hul plaashuis aangeval het, het infeksie in sy wonde.

Berdus Henrico (39) van Melkrivier buite Vaalwater is ná die plaasaanval verlede Dinsdagaand van bakboord na stuurboord tussen provinsiale hospitale gestuur. Hy is nie lid van ’n mediese fonds nie.

Die wonde aan Berdus Henrico se gesig nadat hy op ’n plaas in Limpopo aangeval is. Foto: Verskaf

Chrisna van der Merwe, sy suster, sê die wonde aan sy gesig en nek het nou infeksie opgedoen omdat dit nie vinnig genoeg ná die aanval behandel is nie.
“Hy het baie pyn en word met antibiotika behandel.”

Henrico word danksy skenkings van weldoeners deur ’n private dokter behandel en een van die koeëls is reeds verwyder.

Drie mans het verlede Dinsdagaand by die plaashuis ingebreek. Henrico is twee keer raakgeskiet en ook met ’n mes gesteek. Hy en sy verloofde, Estelle Nieuwenhuys, is vasgebind.

Estelle se een arm is kort voor die aanval beseer toe ’n perd haar geskop het, en dit is verder beseer toe sy vasgebind is.

Berdus Henrico, ’n wildboer, is in ’n plaasaanval in Limpopo beseer. Foto: Verskaf

Henrico is met ’n ambulans na die F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle (Nylstroom) geneem waar hy moes hoor hulle kan nie op hom opereer om die koeëls te verwyder nie.
Hy is verlede Woensdagoggend met ’n ambulans na die provinsiale hospitaal in Polokwane gebring.

Van der Merwe sê haar broer het etlike ure daar gewag sonder dat hy gehelp is. Hy is laatmiddag weer met ’n ambulans na die F.H. Odendaal-hospitaal gebring. Hy het toe nog geen medisyne vir pyn ontvang nie.

Intussen het AfriForum klagte by dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, se kantoor ingedien omdat Henrico nie behoorlike behandeling by die F.H. Odendaal-hospitaal gekry het nie.

Ernst Roets, adjunkvoorsitter van AfriForum, sê die klagte bevat ook inligting dat Henrico glo nie by die provinsiale hospitaal in Polokwane behandeling ontvang het nie.

“Die minister se kantoor het ontvangs van ons klagte bevestig en ons wag op terugvoering,” sê Roets.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

Berdus Henrico en Estelle Nieuwenhuys is in ’n plaasaanval in Limpopo beseer. Foto: Verskaf


Meer oor:  F.H. Odendaal-Hospitaal  |  Afriforum  |  Berdus Henrico  |  Melkrivier  |  Vaalwater  |  Infeksie  |  Plaasaanval  |  Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.