Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer ly groot skade toe 3 store glo aan die brand gesteek is

Skade van minstens R1,8 miljoen is aangerig toe voer in drie store op ’n plaas naby Oudtshoorn verwoes is in ’n brand wat vermoedelik gestig is.

Die brand het Sondag in die vroeë oggendure ontstaan op die plaas van Joey Potgieter sowat 20 km van Oudtshoorn op die pad na Calitzdorp.

Potgieter sê die polisie was besig met plaaspatrollies toe hulle die brand sien.

Potgieter-hulle en die brandweer het probeer om die vlamme te blus, maar die voer is alles vernietig. Die voer was in drie store. Volgens hom is daar ook strukturele skade aan die store.

Een van die store van Joey Potgieter aan die brand op sy plaas.

Volgens Potgieter is die store juis wyd uitmekaar geplaas om die risiko te verminder indien ’n brand sou uitbreek. "Dit het reg rondom die store gebrand," sê hy.

Daar word vermoed dat die brande gestig is deur ’n man wat voorheen op die plaas gewerk het, maar wat volgens Potgieter "weens misdadige gedrag" sy werk verloor het. Ooggetuies het die man glo ook op die plaas gesien. Die man is glo een van die duisende gevangenes wat tydens die inperking op vervroegde parool uit tronke vrygelaat is.

Die Oudtshoorn-gebied gaan tans gebuk onder ’n knellende droogte. Volgens Potgieter is dit ’n groot verlies en is die skade van die voer alleen sowat R1,8 miljoen.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê by navraag ’n saak van brandstigting is geopen ná die brand Sondagoggend omstreeks 00:45.

Mense met inligting kan die ondersoekbeampte, a.o. Tobie Alberts by Oudtshoorn se speurtak, op 044 274 4400 of die tolvrye teenmisdaadnommer op 08600 10111 bel.

DA kla oor polisie

Die DA het Maandag in ’n verklaring gesê hy het die Wes-Kaapse polisiekommissaris oor die voorval ingelig omdat die plaaslike polisie nie genoegsaam voorkomend opgetree het oor klagtes van Pogieter vroeër oor verdagte optrede in die gebied nie.

Die DA sê indien die polisie die nodige ondersoekwerk gedoen en voorkomende stappe gedoen het, kon die brandstigting verhoed gewees het.

Die DA sê die voer was vir vee bedoel en die skade aan die eiendom plaas meer druk op wat reeds ’n stresvolle beroep is. Die skade kon ook erger gewees het indien die brand na buurplase versprei het.

Boere en plaaswerkers kla reeds lank oor polisiëring in die gebied. Baie boere het teenoor die DA gekla dat hulle min ondersteuning van die polisie kry en dat boere ekstra maatreëls moet tref om veiligheid op te skerp.


Meer oor:  Polisie  |  Boere  |  Oudtshoorn  |  Calitzdorp  |  Brand  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.