Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer se huis brand af – ‘dis nie plaasaanval’
Die huis van die Otto-egpaar van Bultfontein wat Saterdagoggend in ’n brand vernietig is. Foto: Verskaf

’n Boer van Bultfontein, Albert Otto, moes Saterdagoggend inderhaas vier van sy kleinkinders na veiligheid bring toe hy wakker geword het van ’n brand in sy huis.

Otto sê hy weet nie waarom sy huis Saterdagoggend afgebrand het nie, maar dit was beslis nie ’n plaasaanval nie soos mense nou op sosiale media verkondig.

Otto sê hy en sy vrou, Annatjie, en vier van hul kleinkinders, Almay (6), Zak (6), Anja (4) en Rohan (2), het in die plaashuis se hoofslaapkamer geslaap.

Otto sê hy het Saterdagoggend omstreeks 04:30 wakker geword.

“Ek word nie gewoonlik so vroeg wakker nie en het gedink ek hoor iemand op die huis se dak.”

Otto sê die geraas het ál nader geklink en hy het in die bed omgedraai om op te staan.

“Ek wou my rewolwer kry omdat ek gedink het dit is mense wat ons wil aanval.

Albert Otto, ’n boer van Bultfontein, se huis wat Saterdagoggend afgebrand het. Foto: Verskaf

“Toe sien ek die rooi gloed en dink eers dit is aanvallers met infrarooiligte.”

Otto sê hy het besef dit is ’n brand en Annatjie en die kinders wakker gemaak.

“Ek het die kinders in my bakkie gesit en dit ’n ent van die huis af gaan parkeer.”

Hy het ook intussen hulp ontbied en twee van sy seuns wat ook in die omgewing bly, Albert en Zak, en nog mense het die egpaar kom help.

Otto is terug om sy voertuie weg te skuif en het gesien Annatjie is weg.

Annatjie het terug in die huis gegaan en hul selfone, haar handsak en Otto se insulien gaan haal.

My seuns kon van die jaggewere uit die kluis red, maar die plafon het inmekaar gesak en dit is al wat ons uit die huis kon vat, sê hy.

Van die goed in die instapkluis het darem behoue gebly, sê Otto.

Hy sê daar was binne ’n baie kort tyd omtrent 50 boere en minstens 15 bakkies met vuurvegters op die plaaswerf, maar die brand het die huis in puin gelê.

Otto sê die brand het in die lapa wat aan die huis grens, begin.

“Miskien was daar sabotasie, dit kan ’n mens seker nooit uitsluit nie, maar dit was beslis nie ’n plaasaanval nie,” sê hy.

Die polisie het reeds ’n ondersoek begin en dit lyk asof ’n elektriese kabel in die lapa ’n kortsluiting gemaak het.

“Annatjie is baie hartseer oor haar huis, maar ons is so dankbaar dat ons die kleinkinders betyds uit die huis kon kry,” sê Otto.

Meer oor:  Bultfontein  |  Brand  |  Plaasaanval  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.