Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer se selfdood ‘wys die druk op boere’
Lops Steyn se selfdood het die Cradock-gemeenskap geruk.

Die selfdood van ’n boer van die Cradock-distrik het die gemeenskap geruk, veral ook omdat hy as een van hul positiefste landbouers beskou was.

Die 55-jarige Lops Steyn, wat ook ’n bestuurder vir Vleissentraal in die Karoo-distrik was, was volgens plaaslike boere bekend vir sy positiewe gesindheid, en hy het graag ander gedurende die knellende droogte moed ingepraat.

Volgens die polisie het ’n werker Woensdag omstreeks 13:00 by ’n dam op die plaas, Hartbeeslaagte, op Steyn se lyk afgekom.

Volgens dr. Ettienne du Toit, voorsitter van die Tarka-wyk-landbouvereniging, het Steyn die afgelope twee jaar nie juis meer water op sy plaas gehad nie.

Hoewel hy nie weet wat die rede vir sy selfdood was nie, meen hy dat die droogte heel moontlik ’n rol kon gespeel het.

Du Toit het gesê dit is nie noodwendig ’n skuldlas wat ’n boer tot dié stap dryf nie, maar eerder die uitwerking wat die droogte op die diere en die veld het.

“Enige boer het maar ’n sagte hart vir diere. Ons is lief vir die diere, ons grond. Dít is ’n boer se bestaan.

“Om buite te kom en die dorre vlaktes te sien, kaal velde, nog karkasse, ’n ooi wat haar lam los – dít is wat ’n boer die hardste tref.”

Steyn het die afgelope 12 jaar as ondervoorsitter saam met Du Toit in dié landbouvereniging gedien. “Hy was my regterhand. ’n Groot steunpilaar in die boerevereniging.

“Ek kon nie vir ’n beter vriend, kollega en kameraad in die landbougemeenskap gevra het nie. Hy het diep spore gelaat waar hy gegaan het en niks was te veel moeite vir hom nie.”

Voorheen het Steyn ook in die besture van die distrikslandbou-unie en Agri Oos-Kaap gedien.

Du Toit het gesê Steyn se dood voel nog onwerklik, veral in die lig daarvan dat hy toegewyd ander lede gedurende die voortslepende droogte bemoedig het.

“Hy het saam my mense gaan moed inpraat. Hy het vir ander soveel van homself gegee en gegee.

“Hy was ’n geliefde mens, iemand na wie ander opgekyk het en gerespekteer het. Dit is vir ons ’n geweldige skok.”

Chris Troskie, Vleissentraal se direkteur vir Port Elizabeth, het Steyn as ’n opregte mens en staatmaker beskryf, wat veral in hul bedryf gemis sal word.

“Hy was ’n eerlike man, met goeie menseverhoudinge. Hy het baie naby ons Skepper geleef en gereeld ons vergaderings met Skriflesing en gebed geopen.”

Ander boere is in dieselfde bootjie

Volgens Troskie is sy dood ’n groot skok vir almal wat hom geken het. Hy glo die droogte en die gepaardgaande voortdurende finansiële druk het sy tol geëis, en meen daar is nog boere wat om dieselfde redes sukkel om kop bo water te hou.

Erich Cloete, wat “soos die kraai vlieg” sowat 50 km van Steyn af boer, beaam dat die boere ’n “bittere stryd” teen die droogte voer.

Benewens die afgelope ses jaar se ondergemiddelde reënval, dra veesiektes, die verbod op veeveilings en die onwilligheid van politici om in te gryp, alles tot die verdere druk by.

Hoewel Cloete nie weet wat die rede vir Steyn se selfdood was nie, meen hy dat ’n mens wat sy eie lewe neem, nooit as ’n lafaard bestempel kan word nie.

“Niemand weet wat die presiese omstandighede was en waardeur daardie mens is nie.”

Volgens Cloete is daar waarskynlik talle ander boere wat –weens die vleispryse wat drasties geval het, die wolprys wat met sowat 20% verswak het en die reën wat “streepvormig” voorkom – wat in dieselfde sielkundige bootjie verkeer.

Hy het Steyn langer as 30 jaar geken. “Daar is seker nie ’n man in Cradock wat hom nie geken het nie, veral in die vleisbedryf. Ons het altyd goed saamgewerk. Hy was ’n man met ’n sterk karakter. Sy dood was heeltemal onverwags vir ons almal.”

Dit reën nie geld nie

Die afgelope paar weke het daar wel welkome reën in die distrik uitgesak. Maar terwyl Cloete 130 mm in sy reënmeter gemeet het, was daar slegs sowat 30 mm op Steyn se plaas.

“Dit is sulke goed wat ’n sielkundige uitwerking op mense het. Dit laat jou begin twyfel, en wonder of jy dalk iets verkeerd gedoen het, want die mense om jou kry meer reën. Dit is moeilik om sulke goed te verduidelik.”

Nóg ’n boer van die distrik, Pierre-Martin Lombard, het gesê hy is dankbaar vir die afgelope tyd se reën, maar reën bring op die vroegste eers ná tien of 11 maande ’n inkomste.

“Die gemiddelde dorpsman glo as dit gereën het, gaan dit goed. Maar dit reën nie geld nie.”

Volgens hom begin die volgende groot geveg teen die droogte nou, met boere wat hul produksie sal probeer opstoot.

Indien die volgende lamtyd suksesvol verloop, sal die eerste lammers oor tien maande gereed wees om te verkoop.

Hy meen die laaste drie jaar van droogte het die boere minstens vyf jaar teruggesit wat veegetalle betref.

“Die manne is vuisvoos. Die afgelope November het die wiele regtig begin afkom. Boere begin hul kernkudde verkoop. Die gemiddelde boere se veegetalle is 30% minder as twee jaar gelede.”

Hy voorspel dat vanjaar en aanstaande jaar ’n waterskeidingstydperk vir talle boere sal wees.

“Ek kan nie sê wat die rede vir (Steyn se) selfdood is nie, maar oor die afgelope tien maande het ek al vier nommers op my selfoon verwyder van boere wat hulself om die lewe gebring het.”

Lombard het gesê hy sal Steyn onthou as ’n positiewe man, wat deur die hele gemeenskap geliefd was.

Intussen doen Du Toit ’n beroep op die publiek om aan te hou bid vir hul gemeenskap en vir reën, terwyl hulle voortgaan om by Agri en die regering vir verdere droogtehulp aan te klop.

* ’n Troosdiens vir Steyn sal Saterdag om 11:00 in die NG kerk Cradock-Oos gehou word.

Meer oor:  Droogte  |  Selfdood  |  Cradock  |  Boere  |  Lops Steyn  |  Boer  |  Skuldlas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.