Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boer vertel hoe mans vlug voor olifante

Dit kon hy gewees het wat Dinsdag deur die olifante doodgetrap is en nie Beyers Coetzee (45) nie.

“Dit was ’n noue ontkoming. ’n Geweldige lewensles toe ons voor twee aanstormende olifantbulle vir ons lewe moes vlug, te voet en sonder wapens.”

So sê Hendrik van Jaarsveldt (20), seun van die plaasbestuurder van ’n buurplaas, Brandt van Jaarsveldt, (45), wat Dinsdag op die toneel was waar Coetzee gesterf het.

Hendrik was saam met Coetzee en nog drie plaaswerkers om ’n trop van 31 olifante wat deur die heining van die Mawana-wildplaas naby Vryheid in KwaZulu-Natal gebreek het, met vuurwerk na Mawana te probeer terugdryf.

’n Huldeblyk van Grant Fowlds, ’n boesemvriend, aan wyle Beyers Coetzee (45). Foto: Verskaf

“Die olifante het ook deur die buurplaas wat my pa bestuur, se heining gebreek en was op ’n boer, Nana Sithole se plaas, vanwaar ons hulle probeer terugdryf het,” sê hy.

Hendrik, wat net vir twee maande in Suid-Afrika is en volgende week na Amerika terugvlieg waar hy vir ’n Amerikaanse boer werk, sê hy het groot geskrik.

“Ek is self ’n grootwildjagter en probeer nog om alles te verwerk.”

Brandt sê hy het sy seun saamgestuur om Coetzee te gaan help omdat hy met iets anders besig was.

“Die olifante loop op 12 000 ha grond by Mawana. Hulle was Beyers se groot passie in die lewe. Hy het tien keer op ’n dag vir almal wat belang het hierby, WhatsApp-boodskappe oor hulle gestuur.”

Brandt sê die olifante was al ’n goeie 5 km, 6 km teruggedryf toe die twee bulle Dinsdag omstreeks 12:00 die mans in die ruie, bergagtige bosse bestorm het.

Sy het gesê ons moet dadelik die vliegtuig van Vryheid af laat kom.

“Elkeen het voor die aanstormende bulle te voet in sy eie rigting gevlug. Teen 13:15 het my seun gebel toe hy selfoonsein gehad het om te sê dat ek hom moet kom haal. In daardie stadium het hy nog nie geweet dat Beyers dood is nie.”

Brandt sê hulle het vermoed dat Coetzee in die vallei af is na sy swaer. Hy het egter nie daar uitgekom nie. ’n Groot soektog het begin.

Teen 16:00 het hulle Coetzee se vrou, Una, gebel om te sê dat hulle hom nie kry nie.

“Sy het gesê ons moet dadelik die vliegtuig van Vryheid af laat kom.”

Uiteindelik het hulle teen 17:00 Coetzee se erg verminkte lyk gekry, sowat 25 m vanwaar die bulle die mans bestorm het.

* Estie Rossouw, museumkurator by Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein waar Coetzee skoolgegaan het, het Vrydag gesê hy het senior nasionale kleure in veldboogskiet verwerf terwyl hy in 1992 nog op skool was.

“Hy was toe in matriek en was die senior manswêreldkampioen. Hy het ook op 7 Augustus die wêreldrekord geëwenaar. Hy het Suid-Afrika tot in 1995 in dié sportsoort verteenwoordig.”

* Volgens Grant Fowlds, ’n boesemvriend, sal Coetzee op 27 Februarie om 13:00 sowat 15 km buite Pretoria in ’n bergagtige omgewing begrawe word.

Nadere besonderhede oor die begrafnis sal later verskaf word.

Meer oor:  Olifante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.