Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boerboel help ma om haar kind uit pitbull se kake te red

“Toe ek my dogtertjie se gille hoor, was my eerste gedagte dat sy die slagoffer van ’n xenofobiese aanval is. Maar toe ek om die hoek hardloop, sien ek hoe ’n pitbull haar aanval en hoe die ander kinders vreesbevange weghardloop.”

Dít was die nagmerrie wat op 4 September by die gesin se huis in Lakeview, Welkom, voor ’n angsbevange ma, Thuli Ngwenyama, ontvou het toe die bure se pitbull haar 9-jarige dogter, Khanyisa Emilia, aanval.

Terwyl Ngwenyama na haar kind gehardloop het, het sy haar susterskind gegryp en oor die hek van hul huis se binnehof na veiligheid gegooi, vertel sy.

“Die hond het my dogtertjie aan haar gesig beetgehad en haar rondgepluk. Ek het die hond se agterbene vasgegryp, maar die dier was te sterk vir my en het my kind se gesig stewig vasgebyt. Hy wou nie my kind los nie. Ek het hard gegil, maar niemand het kom help nie,” sê Ngwenyama.

“Ek het my hand tussen die hond se bek en my kind se gesig probeer druk. Ek was vreesbevange, maar ek het nie gedink aan wat met my kon gebeur nie, ek wou my kind se lewe red.”

Dit blyk dat die bure se twee pitbulls uit hul erf ontsnap het en na die Ngwenyamas se huis gekom het waar drie kinders – twee meisies en ’n negejarige seun van ander bure – gespeel het. Die hekkie na die Ngwenyamas se voortuin was oop.

Die seuntjie het ’n graaf gegryp en die ander pitbull toegetakel. “Hy kon nie die hond wat my dogtertjie aangeval het, slaan nie. Ek dink hy was bang hy maak ons seer.”

Ngwenyama se ma het toe met hul eie boerboelreun, Emtwini, op die toneel aangekom. Emtwini het die pitbull wat klein Khanyisa beetgehad het, begin byt.

Daardie monster het uiteindelik my kind gelos en die twee honde het mekaar gepak.

“Daardie monster het uiteindelik my kind gelos en die twee honde het mekaar gepak. My ma het my kind by die huis ingedra.

“Ek was uitasem en het nog op die grond gelê toe ek besef die hond wil my aanval, maar Emtwini het hom tot in die agterplaas verjaag. My hond het ons lewe gered.”

Khanyisa Emilia Ngwenyama (9) se gesiggie kort ná die aanval. ’n Week later is die swelling nog nie genoeg gesak sodat sy geopereer kan word nie. Foto: Verskaf

Eers nadat die honde mekaar tot in die Ngwenyamas se agterplaas gejaag het, het die eienaars van die pitbulls te voorskyn gekom.

Die polisie en ’n ambulans is ontbied, en Khanyisa is na die Mediclinic Welkom geneem.

“Die mense het eers gesê hulle sal Khanyisa se mediese koste betaal, maar toe verander hul storie. Hulle het gesê dit sal te duur wees. Khanyisa is toe na Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gebring.”

Weens die aard en erns van haar gesigbeserings is Khanyisa later na die Universitas-hospitaal oorgeplaas.

“Omdat die swelling in haar gesig nog nie gesak het nie, kan hulle nie nou al opereer nie. Hulle sal ook die permanente tandjies wat sy verloor het, moet vervang,” het Ngwenyama Woensdag, ’n week ná die aanval, gesê.

“Die pyn, die woede, die haat en die verskriklike herinneringe is vasgebrand in ons geheue en sal nie maklik verdof nie,” sê Ngwenyama.

Kapt. Stephen Thakeng van die Welkomse polisie sê die polisie ondersoek ’n klag van nalatige beheer oor ’n dier en versuim om te voorkom dat ’n dier ’n mens beseer.

Die pitbull is aan die Welkomse Dierebeskermingsvereniging oorhandig.

Meer oor:  Thuli Ngwenyama  |  Welkom  |  Hondeaanval  |  Kind  |  Boerboel  |  Hond  |  Aanval  |  Pitbull
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.