Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boere, buurtwag ruk op na Prieska se polisiestasie

Boere en die buurtwag van Prieska in die Noord-Kaap het Sondag omstreeks 01:00 die polisiekantoor omsingel uit protes teen ’n voorval waarin twee boere wat ’n vermeende skaapdief aan die polisie wou oorhandig, amper self in hegtenis geneem is.

Die twee boere het glo ’n raadslid van Prieska en sy vriendin in hul motor teen die pad buite een van die plase aangetref en die man van veediefstal beskuldig.

Hulle is met die paartjie na die polisiekantoor om ’n saak van veediefstal aanhangig te maak.

Pleks daarvan om ’n klag teen die paartjie te kon indien is die twee boere amper self in hegtenis geneem nadat ’n vurige woordewisseling glo tussen hulle en die polisie ontstaan het.

Die twee boere het die buurtwag en ander boere na die polisiekantoor ontbied.

Boere en buurtwaglede het hulle na die kantoor gehaas en die perseel omsingel. Polisielede het die hekke gesluit.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Hy sê die polisiekantoor het Saterdagaand omstreeks 23:00 ’n klag van beweerde veediefstal op die Douglaspad naby die Redlands-plaas ontvang.

“Twee boere het na bewering ’n paartjie in hul voertuig naby die hek van ’n plaas aangetref en hulle wou die voorval by die polisiekantoor aanmeld.”

Kock sê die stasiebevelvoerder is ontbied toe ’n onderonsie tussen die twee partye ontstaan het.

Johan Botes, ’n lid van die buurtwag, is ook ontbied en het die situasie ontlont.

Die boere is vrygelaat, maar moes hulle later die dag weer by die polisiekantoor aanmeld.

Die groep wat die perseel omsingel het, is vreedsaam uiteen, maar sal Sondag weer by die polisiekantoor byeenkom wanneer die boere moet aanmeld.

Volgens Kock is niemand in hegtenis geneem nie en geen sake is aangemeld nie. Hy sê geen gesteelde vee is in die besit van die raadslid gevind nie.

Die twee boere sal Sondag glo weer probeer om ’n klag in te dien.

Die gebied gaan al geruime tyd onder veediefstal gebuk. Boere tussen Prieska en Carnarvon het oor die laaste paar maande verliese van meer as R500 000 gely.

Die boere en die raadslid kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Netwerk24 sal nadat die betrokke partye vergader het en kommentaar ontvang is, verder oor die saak berig.

Meer oor:  Prieska  |  Boere  |  Veediefstal  |  Protes  |  Buurtwag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.