Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boere kry ’n dwarsklap

Voorstelle van kommersiële boere om derduisende kleinboere in voormalige tuislandgebiede by die formele ekonomie te betrek, is neergeskiet in die presidensiële paneel oor grondhervorming. Dit het tot tweedrag in die paneel gelei, wat die naweek uitgebars het.

Dit was een van die hoofredes waarom Dan Kriek, president van Agri SA, en Nick Serfontein, ’n vooraanstaande boer wat deur pres. Cyril Ramaphosa op die paneel aangestel is, geweier het om die paneel se verslag aan Ramaphosa te onderteken.

Hulle het ’n minderheidsverslag vir Ramaphosa geskryf wat nou waarskynlik in die snippermandjie gaan beland.

Kriek en Serfontein het gister ’n lelike dwarsklap van die presidensie gekry in ’n verklaring wat onder die naam van dr. Vuyo Mahlati, voorsitter van die paneel, uitgereik is. Hulle word daarin verkwalik omdat Kriek Vrydag gekla het dat belangrike voorstelle van hulle aan die paneel nie in die finale verslag weerspieël word nie.

Paneel ignoreer hul voorstelle.

“Die minderheidsverslag bevat werkbare voorstelle oor die finansiering van grondhervorming en fokus op grondhervorming in landelike gebiede, versnelde grondhervorming asook die vestiging van boere,” het Kriek Vrydagoggend in ’n verklaring deur Agri SA gesê.

Die paneel se verslag moes reeds einde Maart ingehandig gewees het, maar daar was “oorweldigende belangstelling” van buitestanders en organisasies om voorstelle aan die paneel voor te lê. Daarom is uitstel gevra, wat toegestaan is.

Die verslag sal nou Woensdag aan Ramaphosa oorhandig word.

Kriek sê hy en Serfontein het vyf kerngedeeltes van hul minderheidsverslag aan die paneel voorgelê, maar dit het net oppervlakkige aandag in die verslag gekry.

Hulle het daarom besluit om ’n eie, minderheidsverslag op te stel. Hulle het Ramaphosa se kantoor Maandag ingelig dat hulle die minderheidsverslag gaan ingee en het hul minderheidsverslag dieselfde dag aan Mahlati oorhandig vir insluiting by die hoofverslag.

Maar die hoofverslag, sonder die minderheidsverslag daarby, is in die loop van verlede week laat lek aan die joernalis Max du Preez, wat Vrydag daaroor geskryf het in sy herleefde aanlyn weergawe van Vrye Weekblad.

Die minderheidsverslag bevat veral praktiese voorstelle oor hoe om derduisende brandarm kleinboere in stamgebiede, veral in die voormalige tuislande, by die formele ekonomie te betrek. Nuwe vorme van private grondbesit is ’n sleutelkomponent daarvan, het ’n bron wat met die proses gemoeid is, aan Rapport gesê.

“Daar is byvoorbeeld omvattende navorsing gedoen oor wat ’n ekonomiese eenheid vir kleinskaalse boerdery is. Kleinskaalse boerdery speel ’n deurslaggewende rol in die voedselkettings in gebiede soos die ou Ciskei, Transkei en Venda in die Limpopo-provinsie, maar dit gebeur met heeltemal ander netwerke en kleinhandel-kanale as die kommersiële markte wat ons ken,” het Rapport se bron gesê.

Kriek, Serfontein en ander navorsers van kommersiële landbou het baie tyd by tradisionele leiers in dié gebiede deurgebring, onder meer deur bemiddeling van die miljardêr Patrice Motsepe.

“Hulle is baie goed ontvang en het werkbare voorstelle ontwikkel oor hoe landbou en voedselproduksie in dié streke deur grondhervorming gestimuleer kan word,” sê Rapport se bron.

Die voorstelle het feitlik geen aftrek gekry in die verslag wat nou vir Ramaphosa voorberei word nie.

Die minderheidsverslag fokus op grondhervorming in landelike gebiede, versnelde grondhervorming en die vestiging van boere.

“Dit bevat lewensvatbare oplossings vir nasiebou as een, soewereine, demokratiese staat op die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid,” lui Kriek se verklaring.

Mahlati, ’n vertroueling van Rama­phosa en voorsitter van die paneel, het Kriek en Serfontein egter daarvan beskuldig dat hulle die verslag vooruitloop en vertroulike inligting van die paneel aan buitestanders bekend gemaak het. “Toegang deur Agri SA tot vertroulike dokumente van die paneel is ’n saak van kommer vir die paneel en die presidensie. Dit sal direk met die betrokke partye opgevolg word,” lui ’n verklaring wat gisteroggend onder Mahlati se naam deur die presidensie bekend gemaak is.

Volgens haar sal verskille tussen die onderskeie paneellede uiteengesit word in die finale verslag, wat nog opgestel word.

“Agri SA is nie lid van die paneel nie en is nie in ’n posisie om ’n minderheidsverslag in te dien nie. Dan Kriek en Nick Serfontein is paneellede in hul persoonlike hoedanighede – nie as verteenwoordigers van Agri SA nie,” lui die verklaring.

Sy beskuldig hulle ook daarvan dat hulle aanspraak maak op “inhoud wat spruit uit die paneel se prosesse soos dit deur die lede gemagtig is”.

Dié inhoud is glo ook deel van die minderheidsverslag.

Sy ontken die stelling in Kriek se verklaring dat hy geweier het om die verslag te onderteken. “Daar was geen dokument wat onderteken moes word nie,” lui haar verklaring.

Die verteenwoordigers van die georganiseerde landbou verskil ook met die res van die paneellede oor bykomende grondbelasting en ’n moratorium op plaasuitsettigs.

Die verslag beveel glo ook aan dat die Ingonyama-trust, wat koning Goodwill Zwelithini beheer gee oor alle grond wat vroeër tuislandgrond van die ou KwaZulu-regering was, ontbind word.

“Die georganiseerde landbou is daarteen gekant, want dit sal soveel weerstand van die koning en ander tradisionele leiers ontlok dat dit die planne sal verongeluk om kleinboere in die formele ekonomie in te trek,” sê Rapport se bron.

Die ander lede van die paneel is verteenwoordigers van nieregeringsorganisasies, akademici en regslui.

* Lees ook Rapport sê.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Dan Kriek  |  Agri Sa  |  Grondhervorming  |  Verslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.