Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boere moet nou saam planne maak

Dis nie meer ’n kwessie van “ons” en “hulle” in die landboubedryf nie.

“Daar is nou net ’n ‘ons’. Ons moet nuwe planne maak en uitdagings aanpak in plaas daarvan om onsself moedeloos te praat,” het Pierre Vercueil, president van Agri Noordwes, Vrydag op dié organisasie se jaarkongres op Lichtenburg met verwysing na die debat oor grondonteiening sonder vergoeding gesê.

Van links is Pierre Vercueil, uittredende president van Agri Noordwes, Willem de Chavonnes, inkomende president van Agri Noordwes, en Dan Kriek, president van Agri SA. Foto: Susan Cilliers

“Ons is onlosmaaklik verbind tot ontwikkelende landbou en kan nie volhoubaar wees as ons nie is nie. Verskille is die kern van menswees en om met mekaar te praat is die enigste manier om ooreenstemming te vind.”

Vercueil het gesê grondonteiening sonder vergoeding sal privaat eiendomsbesit en beleggersvertroue knou, en daarom is dit noodsaaklik dat boere op elke vlak deel van die “robuuste debat” daaroor moet wees.

“Agri SA moet kollektiewe leierskap in die gesprek neem. Ons moet gesien word as eerlik en dat ons in goeder trou praat. Dit moenie lyk asof ons net ’n bepaalde sektor dien nie. Ons sal nooit werklik vrede hê sonder ooreengekome oplossings vir grondhervorming nie.”

Vercuiel het ’n beroep op jong boere gedoen om in die land te bly en “medeverantwoordelikheid” vir die toekoms te aanvaar.

Nic Bronkhorst, besturende direkteur van die landboumaatskappy Obaro, het boere oor daarteen gemaan om die land te verlaat omdat hulle op ’n “goudmyn” sit.

“Teen 2050 sal die wêreldbevolking met 40% gestyg het en al meer kos sal geproduseer moet word.”

Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, het Vrydag gesê die landbousektor was “nog nooit so beleër en onder druk soos nou onder die huidige politieke bewindhebbers se heerskappy van korrupsie en onbevoegde landsbestuur nie”.

Du Toit het gesê opponerende politieke partye se “magstryd” is ten koste van die beste belange van landbou en Suid-Afrika. “Dít en die trae, kwynende ekonomie skep baie onsekerheid. Agri Noordwes het ’n groot taak om volhoubare landbou te midde hiervan te verseker.”

Dinge word egter stadig beter sedert Cyril Ramaphosa president geword het. Hy is ernstig daaroor om korrupsie uit te roei, die regering se geldsake weer op ’n pad van volhoubaarheid te plaas en gebroke staatsentiteite reg te ruk.

Du Toit meen dit kan gedoen word deur mense met die regte inligting toe te rus en deurdat boere by die gronddebat betrokke is. Agri Noordwes werk eerstehands met dié soort sake, het baie kennis daaroor en kan daarom weldeurdagte planne en strategieë formuleer om landbouers se belange te beskerm en te bevorder, het Du Toit gesê.

Nicky Weimar, senior ekonoom van Nedbank, meen dat Suid-Afrika se ekonomie nie binnekort drasties gaan verbeter nie, dat die rand wankelrig gaan bly en dat inflasie gaan bly styg.

“Dinge word egter stadig beter sedert Cyril Ramaphosa president geword het. Hy is ernstig daaroor om korrupsie uit te roei, die regering se geldsake weer op ’n pad van volhoubaarheid te plaas en gebroke staatsentiteite reg te ruk.”

Weimar het egter verduidelik die wêreldekonomie het ’n groter invloed op die waarde van die rand as rentekoerse in Suid-Afrika as dinge wat binne die land gebeur.

“Die VSA se buitelandse beleid en Donald Trump se handelsoorlog teen (onder meer) China en Iran, raak onder meer die olieprys. Dit verminder handel, ondermyn belegging en maak groei stadiger. Dit maak opkomende ekonomieë soos Suid-Afrika baie kwesbaar en wêreldbeleggers is bang om in sulke hoër risikolande te belê. Die onsekerheid oor wat presies die grondonteiening gaan behels, maak beleggers nog meer huiwerig om in Suid-Afrika te belê.”

Meer oor:  Agri Sa  |  Cyril Rama­Phosa  |  Dan Kriek  |  Landbou  |  Landboubedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.