Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boere-oorlog se naam verander
Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het Versoeningsmaand by die Oorlogmuseum in Bloemfontein begin met die onthulling van ’n hoeksteen om swart konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog te gedenk. Die oorlog is tot die Suid-Afrikaanse Oorl

Bloemfontein. – Dit is nou amptelik: Presies 116 jaar ná die uitbreek van wat tot nou toe as die Anglo-Boereoorlog (ABO) bekend gestaan het, is die naam amptelik na die Suid-Afrikaanse Oorlog verander.

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het dié aankondiging gedoen toe hy nasionale Versoeningsmaand by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein bekend gestel het.

Dié museum sal voortaan as die Suid-Afrikaanse Oorlogmuseum bekend staan.

Die naam van die oorlog tussen Brittanje en die Boererepublieke, die Oranje-Vrystaat en Transvaal, van 1899 tot 1902, word nou aangepas om ook die rol en lyding van swart mense in die oorlog weer te gee.

Die geskiedenis van die oorlog, wat altyd as ’n “witmansoorlog” bekend was, word reggestel.

’n Boek, Black Participation and Suffering in die South African War 1899–1902 – An Untold History, is ook deur die ­museum uitgereik.

Mthethwa het die Sol Plaatje-saal besoek waarin swart mense se rol in die oorlog uitgebeeld word.

“Vandag hier in Bloemfontein sit ons die proses van erkenning oor die ongeregtighede in die verlede voort en betoon eer aan diegene wat vir hul vryheid en hul land gely het,” het Mthethwa gesê.

Die Tuin van Herinnering vir die slagoffers in die konsentrasiekampe, waarin ’n muur ook die swart konsentrasiekampe uitbeeld, bring só erkenning aan diegene wie se name in die verlede uitgesluit is.

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het Versoeningsmaand by die Oorlogmuseum in Bloemfontein begin met die onthulling van ’n hoeksteen om swart konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog te gedenk. Die oorlog is tot die Suid-Afrikaanse Oorl

Swart mense het ’n rol aan albei kante gespeel. Daar was sowat 100 000 swart mense aan die Britse kant.

Daar is twee keer meer swart en wit vroue en kinders as soldate in die Britse konsentrasiekampe dood. Hongersnood en siektes het ’n geweldige tol geëis.

Daar was 65 swart kampe en 49 wit kampe. In die kampe is sowat 285 000 mense aangehou en 51 927 van hulle is dood. Altesaam 27 927 mense is in wit kampe en 24 000 mense in die swart kampe dood.

Dr. Jan van der Merwe, voorsitter van die museum, het gesê die museum is tot ’n wêreldgehalte-museum uitgebou. Dit is hervorm van ’n eksklusiewe Afrikaner-museum na een wat alle gemeenskappe se rol in die oorlog uitbeeld.

Hy het gesê die ANC is juis in 1912 gestig as uitvloeisel van die oorlog nadat beloftes wat die Britte aan die swart mense gemaak het nie nagekom is nie.

¦ Regstelling: In die berig "Boere-oorlog kry 'n nuwe naam" is verkeerdelik geskryf dat Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, amptelik die naam verander het van die Oorlogsmuseum van die Boere-rupublieke in Bloemfontein tot die Suid-Afrikaanse oorlogmuseum, en dus daarmee saam die naam van die oorlog. Mthethwa het daarop gewys dat hy wel gesê het dat dit in die toekoms oorweeg moet word om die naam te verander tot die Suid-Afrikaanse oorlogmuseum, maar dat hy dit nie amptelik aangekondig het soos berig is nie. Volgens hom is dit nodig om die naam te verander as deel van die proses om die nalatenskap van die verlede korrek te weerspieel. Swart mense het aan weerskante van die oorlog geveg en gesneuwel, terwyl die geskiedenis dit hoofsaaklik 'n "witmensoorlog" genoem het. Daar is ook verkeerdelik berig dat hy die naam van die Anglo-Boere-oorlog verander het, hoewel hy die keuse gemaak het om daarna te verwys as die Suid-Afrikaanse Oorlog soos sommige historici ook doen. Hy het dit gedoen "omdat mense van meer as 34 verskillende lande betrokke was" en hulle moet almal erkenning kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.