Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boeremagbaba Jan-Arend ‘is ’n nuwe volksleier’

Die Boeremagbaba wat met kunsmatige inseminasie vanuit die tronk verwek is, is Woensdag gebore.

Riëtte wys Jan-Arend se Vierkleur-babapakkie op sy
Riëtte wys Jan-Arend se Vierkleur-babapakkie op sy ouma, Minnie Pretorius, se Facebook-blad.

Dr. Wilhelm Pretorius en sy vrou, Riëtte, se eersteling is ’n frisserige seun en hy het die fors naam Jan-Arend Pretorius gekry.

Jan-Arend het kort voor sy geboorte ’n wit babapakkie present gekry met sy naam en die ou Transvaalse Vierkleur-vlag, wat die amptelike vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek was, op die voorkant.

Riëtte (36), van Pretoria, het Saterdagoggend ’n foto van die baba op Facebook geplaas met ’n gebreide kakiekleurige mussie op sy kop. Sy het aangekondig hy het 3,64 kg by geboorte geweeg. “Skuus as ek nie reageer op boodskappe nie. Alle moeders behoort te verstaan... ek is doodmoeg,” het sy geskryf.

“Hier is ’n volksleier gebore as jy na pappa en mamma kyk."

Rapport het vroeër berig dat Riëtte kunsmatig bevrug is met haar man se sperm nadat hy by die departement van korrektiewe dienste (DKD) aansoek gedoen het dat so ’n prosedure kan plaasvind.

Wilhelm, wat in die Zonderwater-tronk in Cullinan, oos van Pretoria aangehou word, is einde 2013 saam met 18 ander Boeremagbeskuldigdes gevonnis vir onder meer hoogverraad. Hy het in die tronk sy doktorsgraad in Bybelse argeologie behaal.

Sy pa, Lets, en sy broer Johan, albei mediese dokters, is ook tronk toe. Sy ander broer, Kobus, ’n ingenieur, het tydens die Boeremagverhoor in die Pretoriase hooggeregshof van die gesin vervreemd geraak. Kobus is ook in die tronk.

Die pasgebore Jan-Arend.
Die pasgebore Jan-Arend.

Riëtte het ’n gedig wat Wilhelm onder die naam “Boerius” op 22 Februarie in die tronk geskryf het, gepubliseer saam met ’n foto van baba-velskoene. “Verwagte seën” lui onder meer: “Ons dra jou op// in priestermanteltjie//as toekoms gesig//vir Boer en elke Koningskind”.

Gelukwensings het Saterdag op Facebook vir Riëtte ingestroom en honderde mense het haar boodskap oor die baba gaan “like”.

’n Facebook-gebruiker het gesê: “Hier is ’n volksleier gebore as jy na pappa en mamma kyk. Mag die Here sy hand van beskerming oor hierdie seun hou.”

Rëtte en Wilhelm Pretorius het mekaar in die Culli
Rëtte en Wilhelm Pretorius het mekaar in die Cullinan-tronk ontmoet

Nog ’n gebruiker het gesê Jan-Arend is pragtig en geluk aan “die hele Boeremagfamilie”. ’n Ander Facebook-gebruiker het op Riëtte se muur geskryf: “Ek glo Wilhelm is vandag die mees trotse man in die gevangenis!”

Wilhelm (41), wat 25 jaar tronkstraf uitdien, het ’n hangende aansoek in die hooggeregshof om ’n bevel te kry wat hom toelaat om seks met Riëtte in die tronk te kan hê as sy hom besoek. Die departement het die versoek geweier en voer nou in die hof aan dit sal ’n ongesonde presedent skep.

Jan-Arend se vellies.
Jan-Arend se vellies

Die Pretorius-egpaar is in die einste tronk in 2017 getroud en het mekaar ontmoet nadat hy tronkstraf begin uitdien het. Die kunsmatige inseminasie het in die tronk-kliniek plaasgevind en is deur ’n private dokter gedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.