Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boeremaglid in tronk se gradedag gekanselleer
Wilhelm Pretorius op ’n familiedag in die Zonderwater-gevangenis in Cullinan.

Die familie van ’n Boeremaglid wat sy doktorsgraad in die tronk verwerf het, sê hulle moes kort voor die hekke van die Zonderwater-gevangenis omdraai omdat sy gradeplegtigheid ter elfder ure gekanselleer is.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) ontken dat daar so ’n gradeplegtigheid in die tronk gehou sou word.

Wilhelm Pretorius (39), een van baie min gevangenes wat ’n doktorsgraad in die tronk behaal het, is die aand voor die plegtigheid toegesluit voordat hy ’n amptenaar van die Universiteit van Pretoria (UP) kon kontak om reëlings te verander.

Pretorius is in 2012 saam met sy twee broers, sy pa en 16 ander mans in die hooggeregshof in Pretoria aan hoogverraad skuldig bevind.

Ná ’n tien jaar lange marathonverhoor is hy in Oktober 2013 prakties gesproke tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Hy was ook, soos die meeste van die beskuldigdes in die saak, sedert hul inhegtenisneming in aanhouding. Hy het in 2008 ’n meestersgraad in sistematiese teologie aan Unisa behaal terwyl hy in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria aangehou is.

Nou het hy ’n doktorsgraad in kerkgeskiedenis aan die UP behaal. Die onderwerp van sy tesis is: “ ’n Kerkhistoriese ondersoek na die ontwikkeling van die kalendriese aspekte van Paasfees binne die Christendom in die eerste drie eeue n.C.”

Hy dien sy vonnis in die Zonderwater-gevangenis in Cullinan uit.

Riëtte van Schalkwyk, ’n woordvoerder van Boervin, ’n organisasie wat hom beywer vir die vrylating van “die Boerevolk se politieke gevangenes”, sê die universiteit se amptelike gradeplegtigheid is op 6 April gehou, maar Pretorius is nie toegelaat om dit by te woon nie.

Daarom is ’n “alternatiewe” seremonie by die tronk gereël.

“Hy het op 22 Maart die amptelike aansoek vir so ’n seremonie ingedien. Dit is goedgekeur en bevestig deur mnr. Tony Rametsi, ’n opvoedkundige beampte van Zonderwater, vir 25 April 2017.

“Al die reëlings is sedertdien getref. Die onderhoof en adjunkdirekteur van die Zonderwater-gevangenis het ook aan Wilhelm bevestig dat die gradeplegtigheid in die tronk goedgekeur is,” sê Van Schalkwyk.

Pretorius het Maandag, die dag voor die seremonie, weer al die reëlings vir sy groot dag gaan bevestig.

Daar is vir hom gesê sy amptelike versoek van ’n maand gelede het “verlore” geraak. Hy moes dit herdruk en weer indien.

Om 14:30 nadat Pretorius reeds vir die nag in sy sel toegesluit is, is hy meegedeel dat die gradeplegtigheid uitgestel sal moet word.

“Hulle het aangevoer ’n veiligheidshoof van die tronk, kapt. Tshoke, het nie die seremonie goedgekeur nie omdat daar nie aan al die vereistes vir die gradeplegtigheid voldoen is nie.

Wilhelm Pretorius se graadsertifikaat.

“Die departement van korrektiewe dienste (DKD) wou ’n brief hê van die universiteit waarin daar toestemming verleen word dat Pretorius die gradeseremonie in die gevangenis mag hou.”

Sy sê Rametsi het Pretorius aangesê om die volgende oggend (25 April) te reël vir so ’n brief.

“Wilhelm was toe reeds toegesluit en kon niemand hiervoor bel nie”.

Rametsi het glo ook, sonder Pretorius se medewete, ’n professor van die fakulteit teologie wat die seremonie sou behartig, gebel en gesê die gradeplegtigheid is gekanselleer.

“Daar was gaste wat van so ver as Lichtenburg gekom het. Nadat mense verlof geneem en op pad was, kon hulle eers daardie oggend ingelig word dat die gradeplegtigheid gekanselleer is.

“Die DKD se mandaat is rehabilitasie, waarvan akademie en opleiding die hoofelement is. Hulle maak dit egter vir gevangenes so moeilik as moontlik om te studeer. Alle inisiatiewe om gevangenes met studie te help, word onderdruk, hetsy deur swak administrasie, onvermoë of kwaadwilligheid,” sê Van Schalkwyk.

* Die DKD sê in ’n verklaring “daar sou nooit so ’n gradeplegtigheid in die Zonderwater- korrektiewe sentrum gehou word nie”.

“Volgens prosedure, as daar ’n seremonie gehou word, sal dit ’n gesamentlike poging tussen die DKD en ’n tersiêre instelling wees.

“Die departement beskou die betrokkenheid van oortreders in opvoedkundige programme as baie belangrik en ons werk nóú saam met verskeie aandeelhouers om te verseker dat gevangenes wat studeer, die nodige hulp kry.”

Meer oor:  Boeremag  |  Doktorsgraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.