Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boervrou vermoor ná sy blomme vir man neersit

Elsa Erasmus het kort voordat sy op haar plaas in Noordwes vermoor is, blomme uit haar tuin gaan neersit op die plek waar haar man op die plaas gesterf het.

Sy het dikwels gesê mense “raas en baklei” met haar omdat sy vrou-alleen op die plaas bly ná Hendrik Erasmus se dood drie jaar gelede, het ds. Theuns Steyn van die NG gemeente Amalia, waar Erasmus skriba was, Maandag gesê.

Sy het gesê dis waar sy wil wees en dat sy veilig en rustig voel
Ds. Theuns Steyn

“Sy het egter gesê dis waar sy wil wees en dat sy veilig en rustig voel.”

Hendrik en Elsa Erasmus het sedert hul troue in 1968 op die plaas in die Amalia-omgewing naby Schweizer-Reneke gewoon.

Rowers het die 74-jarige Elsa vermoedelik enkele ure nadat sy die blomme by haar man se sterfplek gaan neersit het, vermoor en heel moontlik ook verkrag. Die verkragting en presies hoe sy gesterf het, moet egter nog met ’n nadoodse ondersoek bevestig word, sê sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Teen vroeg Maandagmiddag is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Erasmus se naakte lyk is Sondagoggend laat enkele kilometer van die plaashuis gevind. Haar hande was agter haar rug vasgebind en sy het met haar gesig na onder gelê, by ’n kol bloed. ’n Ingeligte sê Erasmus is vermoedelik met haar eie wapen geskiet.

“Sy was verniel,” sê die bron.

Die rowers het onder meer haar .22-geweer uit ’n kluis in die plaashuis gesteel.

Familie, boere in die omgewing en die polisie het sedert Saterdagmiddag na Erasmus begin soek toe hulle haar nie telefonies kon bereik nie.

André Pienaar, ’n boer wat help soek het, sê hulle het Sondag in die soektog ’n vars bossie blomme gekry by die hoekpaal op die plaas waar Hendrik Erasmus gesterf het.

Hy is dood toe hy ’n hartaanval gekry en in dié paaltjie vasgery het.

Ons het dieselfde blomme in Elsa se tuin gesien
André Pienaar, boer
Die bossie blomme wat Elsa Erasmus gaan neersit het op die plek waar haar man drie jaar gelede op hul plaas gesterf het. Sy is vermoedelik enkele ure later op dieselfde plaas vermoor.

“Ons het dieselfde blomme in Elsa se tuin gesien.”

Die moordenaars het Saterdag deur die loop van die dag by die huis ingebreek. Hulle het Erasmus vermoedelik ingewag toe sy teruggekom het van die veld, waar sy die blomme gaan neersit en lek vir die beeste gaan gooi het.

Diefwering by die venster was oopgebuig en hulle het die krag afgesit.

Die huis was omgekeer toe besorgdes laat Saterdagmiddag soontoe is. Erasmus en haar Toyota-bakkie was skoonveld. Die polisie en boere, van sover as Vryburg en Kimberley, het help soek na haar, ook met private helikopters.

Die verlate bakkie is Sondagoggend eerste opgespoor, ’n paar kilometer van die huis af. Erasmus se lyk is enkele ure later vanuit ’n polisiehelikopter gewaar, sowat 300 m van die bakkie af.

Elsa Erasmus wou alleen op die plaas aanbly nadat haar man drie jaar gelede gesterf het. Foto: Facebook

Ds. Steyn sê die gemeenskap is getraumatiseer en Erasmus se kinders is “stukkend”.

“Ons sal eers die begrafnis kan begin reël wanneer die nadoodse ondersoek afgehandel is.”

’n Boer in die gemeenskap sê hulle is moedeloos oor die vlaag plaasaanvalle sedert Mei in Noordwes, waarin altesame drie mense nou al vermoor is.

“Ons wil parlement toe gaan en sal reg in eie hande begin neem deur te skiet as iemand in ons huise betrap word. Ons voel die polisie laat ons in die steek.”

* B.C. Greyling is in Mei op sy plaas naby Sannieshof doodgeskiet en sy vrou, Marlette, gewond. Hanno Steyn is in Junie op sy plaas naby Lichtenburg doodgeskiet. Blackie van den Berg is in ’n aanval vroeg in Junie op haar plaas naby Sannieshof verkrag en erg aangerand.

Meer oor:  Elsa Erasmus  |  Blomme  |  Plaasmoord  |  Man  |  Graf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.