Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boet Erasmus-stadion in 2017 gesloop
’n Geraamte van die OP-stadion, wat ook as die Boet Erasmus-rugbystadion bekend is, is al wat nog van die stadion in Port Elizabeth te sien is. Foto’s: DEON FERREIRA
Die dop van die Boet Erasmus-rugbystadion sal in Februarie finaal gesloop word.
Etlike rooi-en-swart Oostelike Provinsie Rugbyunie-borde aan die vervalle mure van die Boet Erasmus-stadion is al wat nog die storie van die rugbystadion kan vertel.
Deesdae word die lang gras en beboste terrein van die Boet Erasmus-rugbystadion deur verfbalspelers vir toernooie gebruik.
Stukkende vensters en mure met gate maak die vervalle Boet Erasmus-rugbystadion blykbaar ideaal vir verfbaltoernooie.
In sy gloriedae in 2006 is verskeie toetsrugbywedstryde in die Boet Erasmus-rugbystadion gespeel. Foto: DEON FERREIRA

Die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth, eens die trots van Oos-Kaapse rugby, se laaste Kersfees het aangebreek.

Dié stadion, wat in sy gloriedae stampvol gepak was met plaaslike rugbygeesdriftiges in die kenmerkende swart-en-rooi OP-ondersteunerskleure, gaan in Februarie 2017 gesloop word.

Deesdae staan daar omtrent net ’n geraamte van die stadion, want sedert die groot rugby in 2009 na die nuwe Nelson Mandelabaai-stadion geneem is, het die stropers fluks en vinnig op die Boet Erasmus-stadion toegeslaan.

Intussen het dit die tuiste van bosslapers en ’n wegkruipplek vir misdadigers geword. Omliggende inwoners het derhalwe verskeie pleidooie aan die metro-munisipaliteit gerig om die vervalle stadion te beveilig of te sloop, maar is elke keer gesê die slopingskoste sou ’n onnodige uitgawe wees.

Op vanjaar se laaste raadsvergadering is die finale sloping oplaas goedgekeur en is R5 miljoen daarvoor bewillig.

“Ons moes finaal besluit of ons miljoene rande sou bestee aan die restourasie en herstel van die stadion of om die stadion te sloop en die perseel vir ontwikkeling beskikbaar te stel,” sê Retief Odendaal, burgemeesterskomiteelid vir begroting en tesourie.

Ek kan wel vir seker sê die ontwikkeling sal iets wees wat die breër gemeenskap sal dien.
Retief Odendaal

Wat in die plek van die stadion sal kom, is nog nie bevestig nie.

“Ons sal eers nog ’n bietjie huiswerk moet doen. Ek kan wel vir seker sê die ontwikkeling sal iets wees wat die breër gemeenskap sal dien.”

Hoewel die Boet Erasmus-stadion vir talle bloot ’n wit olifant is, is daar tog ’n groep mense wat sal hartseer wees wanneer die sloping begin.

Een van hulle is Richard Holloway, ’n amateur-verfbalspeler. Hy en ’n groep toegewyde verfbalspelers het vanjaar die stadion as “oorlogsone” begin gebruik, juis omdat die bosse en vervalle infrastruktuur die perfekte omstandighede bied.

“In Julie vanjaar het ons ’n toernooi gereël en dit het 107 spelers gelok, die grootste verfbaltoernooi wat die Oos-Kaap tot nog toe gesien het.”

Hy sê deelnemers kom so ver as van Knysna en die Langkloof.

“Ek en talle ander deelnemers sal hartseer wees om die stadion gesloop te sien. Ons hoop om nog een toernooi daar te kan aanbied.”

Meer oor:  Port Elizabeth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.