Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boetie probeer sussie red toe rottweiler haar aanval

’n Boetie en sussie van Caledon het Saterdag ernstige beserings aan hul onderlyf en bene opgedoen nadat ’n rottweiler hulle aangeval het.

Sebastiaan en sy sussie, Ariana Snyman, wat steeds in die Worcester-hospitaal behandel word. Foto: Facebook/Aileen Snyman

Sebastiaan (11) en Ariana (6) Snyman het Saterdag by ’n kinderoppasser in Caledon gebly terwyl hul ouers, Aileen en Riaan, ’n afspraak in Somerset-Wes gehad het.

“Hulle was by die kinderoppasser se ouers se huis,” sê Aileen. “Toe sy die kinders wou neem om pizza te gaan koop, het een van die twee reuns Ariana aangeval.

“Ons weet nog nie presies wat gebeur het nie, maar Sebastiaan het sy sussie van die hond probeer red. In die proses het hy ook groot bytplekke aan sy bene gekry.

“Hy het die ander hond probeer vashou, wat in die aanval net geblaf het.”

Die hond het Ariana glo in die erf rondgeruk. Die oppasser het op dié hond se rug gaan sit, maar dit het nie veel gehelp om die aanval te keer nie.

Sebastiaan kon toe oor die muur in die bure se erf spring. Die buurman het die geraas gehoor en die nooddienste ontbied.

Intussen kon Ariana en die kinderoppasser by die huis inkom. “Die hond was toe nog te aggressief en hulle was bang om uit die erf te gaan.”

Sy sê daar is ’n derde rottweiler op die erf – ’n teef wat onlangs kleintjies gekry het.

“Ons vermoed dit is hoekom die een reun so erg aggressief was.”

Sebastiaan langs sy sussie se hospitaalbed. Foto: Facebook/Aileen Snyman

Toe die nooddienste by die huis opdaag, kon hulle uit vrees vir die hond nie by die erf ingaan nie.

“Die kinderoppasser en Ariana was langer as ’n uur sonder hulp alleen in die huis. Sy het baie bloed verloor,” sê Aileen.

Toe die oppasser se ma uiteindelik van Hermanus af in Caledon aankom, het al die honde bedaar en Ariana kon uit die huis gebring word.

Die buurman het Sebastiaan intussen na die Caledon-hospitaal geneem waar hy tien steke aan elke been gekry het. Ariana het ’n slegte wond aan die agterkant van haar bobeen en aan die voorkant van haar ander been.

“Die gat is baie diep en sy sal ’n veloorplanting moet kry. Dit sal egter eers oor twee of drie weke gedoen kan word. Dié wond lyk goed. Hulle het solank haar skenkelsening geheg.”

Aileen sê sy het bevestiging gekry dat die aggressiewe rottweiler Sondag van kant gemaak is. Sy sê sy en die kinderoppasser, asook die kinderoppasser se ma is per WhatsApp in kontak.

Ariana sal minstens drie weke in die Worcester-hospitaal moet bly, en volgens Aileen het sy reeds met haar onderwyseres gereël om ’n draai by die hospitaal te maak sodat sy van haar leerwerk kan doen. Ariana is in gr. 1.

Sebastiaan is uit die Caledon-hospitaal ontslaan en kan teruggaan skool toe. Aileen sê egter hy en sy sussie is baie getraumatiseer ná die voorval en sukkel geweldig om daaroor te praat.

“Dit is ’n baie magtelose gevoel, aangesien ons nie naby was toe dit gebeur het nie.”

Meer oor:  Caledon  |  Aanval  |  Hond  |  Hondaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.