Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boeties kan skaars wag vir Meisie se tuiskoms

Die twee boeties van Philippi wat vier ure lank voetgeslaan het om hul siek hond te help, kan nie meer wág dat hul hond binnekort huis toe kom nie.

Hoewel die broers, Peter (14) en Gerry (8) Cedras, se lewens verander het sedert hul heldedaad in die nuus was, is die feit dat hulle hul tyd nou met ’n gelukkiger en gesonder hond kan deurbring, die een ding wat hulle die gelukkigste maak.

Gerry (links) en Peter Cedras saam met Jacque le Roux, ’n senior verpleër van die Dierewelsynsvereniging. Foto: Dierewelsynsvereniging

Só sê Allan Perrins, uitvoerende hoof van die Dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika, ná die storie van die twee boeties wat die land se harte aangegryp het.

Peter en Gerry Cedras se hond, Meisie, was dodelik siek aan bosluiskoors toe die twee sowat drie weke gelede met haar in die arms na die Philippi-tak van die Dierewelsynsvereniging geloop het.

Gerry het die tog kaalvoet aangedurf.

Peter het besluit om die R7 wat hy vir skoene vir sy jonger boetie gespaar het, eerder te gebruik sodat Meisie, ’n herdershond-kruising, behandel kan word.

Gerry (links) en Peter Cedras op die fietse wat deur die Pedal Power-vereniging geskenk is. Foto: Dierewelsynsvereniging

Perrins sê die storie is steeds besig om mense se harte te roer.

“Hierdie twee onverskrokke jong seuns het ’n ellelange staptog van vier ure aangedurf om letterlik ’n siek en sterwende Meisie – wat 20 kg weeg – oor ’n moeilike terrein te dra om haar lewe te red. Hulle gaan nou daardie selfde logika toepas in die res van hul lewens.”

Perrins sê daar was net gunstige reaksie van oral. “Die reaksie van almal – van Amerika, Nieu-Seeland, Australië en Kanada – was amper oorweldigend. Fenomenaal sou ’n gepaste beskrywing wees.”

Hy sê die uitkoms van die storie het die gesin en die Dierewelsynsvereniging op soveel betekenisvolle maniere beloon. En stééds word hulle oorval met mense wat wil hulp.

Peter (links) en Gerry Cedras het ook onlangs medaljes en sertifikate van hul skole gekry ná hul heldedaad. Foto: Dierewelsynsvereniging

Die Dierewelsynsvereniging kon danksy skenkings van die publiek en ’n aantal sakeondernemings ook al die troeteldiere in die klein boerderygemeenskap steriliseer en behandel.

“Van die geskenke wat die seuns gekry het, sluit in splinternuwe BMX-fietse en fietsry-veiligheidstoerusting van die Pedal Power-vereniging.

“Die seuns loop ook nie meer kaalvoet of dra yl klere nie. Die seuns het ook komberse. Danksy kospakkies kon die familie en baie van hul bure warm en gesonde maaltye kry.

“Die seuns het ook medaljes en sertifikate by hul skole ontvang en is deur die gemeenskap aangewys as ambassadeurs vir die vereniging.

“Baie lesers het aangebied om hul skoolgeld te betaal.”

Perrins sê die seuns is nie bederf nie. “Hulle het niks gehad om mee te begin nie en nou het hulle baie om op trots te wees, dinge wat baie van ons as vanselfsprekend aanvaar. Hulle is bewus van hul seëninge.”

Peter (links) en Gerry Cedras het die naweek die Twee Oseane-akwarium in die V&A Waterfront besoek. Foto: Dierewelsynsvereniging
  • PetlifeSA het ’n veldtog begin waar hulle vir elke sewe “likes” van die Facebook-groep R7 aan die Dierewelsynsvereniging sal skenk.
  • Mense met navrae of diegene wat wil help, kan ’n e-pos stuur aan allanperrins@awscape.org.za of 021 692 2626/7 skakel.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.