Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boeties stap kilometers om hulp vir hul hond te kry

Twee arm boeties van Philippi het oornag die helde van diereliefhebbers geword toe hulle kilometers ver geloop het om hulp te kry vir hul baie siek hond.

Peter (14) en Gerry (8) Cedras se ouerhuis op die groenteplaas waar hulle bly, het ’n tyd gelede afgebrand en die gesin sukkel sedertdien om kop bo water te hou.

Hul hond, Meisie, was dodelik siek aan bosluiskoors toe die twee Woensdag met hul hond in die arms na die Philippi-tak van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) geloop het.

Peter (regs, 14) en Gerry (8) Cedras van die plaasgemeenskap in Philippi, by hul hond, Meisie, wat hulle vir kilometers gedra het tot by die DBV waar sy behandel kon word. Foto: Allan Perrins/DBV

Allan Perrins, uitvoerende hoof van die Kaap de Goede Hoop DBV, het in ’n verklaring op Facebook gesê die twee jong helde het kilometers ver geloop met Meisie wat in daardie stadium baie na aan die dood was.

Gerry het die hele pad kaalvoet aangedurf en Peter het besluit om die R7 wat hy vir skoene vir sy jonger boetie gespaar het, eerder te gebruik sodat Meisie, ’n herdershond-kruising, behandel kan word.

“Ons maak hul storie bekend sodat die publiek kan sien hoe hulle letterlik die ekstra myl geloop het vir hul geliefde hond,” sê Perrins.

Meisie het ’n hoë koors gehad en duidelike tekens van bosluiskoors getoon. Sy het dadelik ’n bloedoortapping gekry en is met binneaarse voeding en medikasie behandel. Teen Vrydagoggend het sy sommer heelwat sterker gelyk, het Perrins gesê.

“Wat my werklik beïndruk het van die twee seuns, is dat hulle ondanks hul moeilike omstandighede ’n onselfsugtige plan gemaak het en Meisie se gesondheid eerste gestel het,” sê Perrins.

Meisie, wat hier vasgehou word deur Oscar Ndudu, ’n teater-assistent by die DBV in Philippi, het teen Vrydagoggend al klaar baie beter gelyk.Foto: DBV

Hy sê die DBV hoop dat hul toewyding en die plan wat hulle beraam het, ander eienaars van troeteldiere sal inspireer om mooi na hul diere te kyk, om ’n plan te maak wanneer hul diere siek is en nie te huiwer om professionele hulp te kry.

Om die seuns te bedank, het die DBV hul geld teruggegee en ook ’n paar skoene vir Gerry geskenk uit die DBV se liefdadigheidswinkel.

“Die seuns het besef daar is fout toe Meisie nie meer wou eet nie. As ’n dier nie wil eet nie, is dit ’n teken dat iets nie reg is nie. Hulle wou nie hê sy moet ly nie en het haar so gou hulle ’n plan kon maak, na die DBV gebring vir behandeling. Ons sal nooit weier om ’n dier in nood te help nie,” sê Perrins.

Sy boodskap op Facebook is sedert Donderdagoggend meer as 1 000 keer gedeel en meer as 200 mense het daarop gereageer.

Perrins sê die terugvoer wat hulle kry, is oorweldigend. Mense het reeds klere en kos vir die twee broers en hul ouers geskenk.

Volgens Perrins was hy by die seuns se ouerhuis en hulle het al hul meubels in die brand verloor. Al vier slaap op ’n driekwartbed.

Meer oor:  Dierebeskermingsvereniging (Dbv)  |  Philippi  |  Hond  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.