Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bohaai oor ‘een keer’ se video

Katlego Maboe se gewese lewensmaat, Monique Muller, sê sy weet nie hoe ’n video waarop sy hom oor sy ontrouheid konfronteer die afgelope week op sosiale media beland het nie.

Katlego Maboe en Monique Muller. Foto: Facebook

Die video van ’n beteuterde Maboe in ’n donker japon wat bieg dat hy by ’n ander vrou geslaap het, het die land aan die gons sedert dit Donderdagnag op sosiale media verskyn het.

In die video konfronteer Muller vir Maboe oor sy misstap. Hy erken hy het “een keer” saam met ’n ander vrou na ’n hotel gegaan en met haar seks gehad.

Sedert die video uitgelek het, is Maboe met verlof van die SAUK se oggend-TV-program Expresso waarvan hy die aanbieder is. Dis sodat hy sy persoonlike sake kan uitstryk, het sy woordvoerder gesê.

Maboe ontken hy mishandel haar.

Outsurance, vir wie hy die gesig is van die massiewe “Chencha dai deng”-advertensieveldtog, het gesê al die advertensies met Maboe daarin gaan so gou moontlik verwyder word.

Teen druktyd Saterdag het meer as 10 000 mense egter ’n aanlyn petisie onderteken om te eis dat Outsurance Maboe se advertensies aanhou uitsaai.

Heelwat ondersteuners van Maboe het Muller ook sedertdien gekritiseer omdat die video op sosiale media beland het.

Katlego Maboe en Monique Muller in gelukkiger tye. Foto: Facebook

Muller, met wie hy al meer as twee jaar uitgaan, sê sy hét die video gemaak, maar dit was nie sy wat dit op sosiale media geplaas het nie. Sy wou nie verder daaroor uitwei nie.

“Ek moet myself beskerm. Dis ’n private saak. Om eerlik te wees, ek het nie ’n behoefte om enigiets te sê nie, behalwe dat die regsproses sy gang moet gaan,” het sy gister gesê.

Die hele onsmaaklikheid het ’n aanloop gehad toe Muller se broer, Seth, vroeër op sosiale media gesê het Maboe het sy suster verneuk.

Hy het ook beweer Maboe het haar mishandel.

Katlego Maboe se verklaring ná die verskyning van die video. Foto: Instgram

Seth het op Instagram gesê Maboe se prokureur het hom gekontak en gewaarsku om nie sy kliënt verder te belaster nie.

Muller het gister gesê sy is bewus van die interaksie tussen Katlego en Seth. Sy sê daar was “baie intimidasie” teenoor haar broer. “Ek keur nie ’n geboelie goed nie.”

Intussen het die vrou met wie Maboe glo in die bed was en haar man hul sosialemediarekeninge gesluit.

Maboe het ’n verklaring uitgereik waarin hy berou uitspreek oor sy ontrouheid. “Ek het my lewensmaat verneuk in ’n tyd wat baie belangrik vir ons was, iets wat ek tot vandag toe berou.”

Hy en Muller gaan deur “ ’n pynlike skeiding met die hulp van regsverteenwoordigers”, het hy gesê.

Hy het egter ten sterkste ontken dat hy haar ooit mishandel het. “Ek het besluit om hierdie situasie in my private hoedanigheid te hanteer.”

Maboe se woordvoerder, Fabrizia Degli Esposti, het in ’n verklaring gesê die verspreiding van die video is ’n poging deur Muller om Maboe “te teister en te viktimiseer” en om sy reputasie te skaad.

Natasha Kawulesar, ’n woordvoerder van Outsurance, sê hulle wil Maboe en sy familie tyd en ruimte gee om die situasie te hanteer.

Dink voor jy plaas

Daar kan ernstige regsimplikasies wees as jy ’n mens of ’n maatskappy op sosiale media beswadder, sê regslui met wie Rapport die afgelope week gesels het.

In dieselfde week waarin Katlego Maboe erken hy het sy vrou verneuk, het ’n jong vrou in ’n video beweer haar Kaapstadse oupa en sy broer, albei afgetrede skoolhoofde, het haar gemolesteer. Sy noem die bejaarde broers by die naam. Haar broer het die video glo op Facebook geplaas om ander te waarsku.

Roy Bregman van Bregman Moodley Prokureurs in Johannesburg sê mense moet twee keer dink voordat hulle so iets doen of die bewerings rondstuur. “Jy belaster iemand wanneer jy ’n lasterlike stelling oor ’n ander lewende persoon plaas, maar ook as jy van die plasing hou of dit verder versprei. Enige aantyging wat die persoon se aansien in die oë van enige regdenkende persoon sal verlaag, kan lasterlik wees.”

As die aantyging waar is en in openbare belang, mag jy dit wel publiseer, maar dan moet jy seker wees jy kan vir ’n hof bewys dat dit waar is.

Verlie Oosthuizen van Shepstone & Wylie Prokureurs in Durban sê as jy iemand belaster kan jy voor ’n strafhof of siviele hof gedaag word.

Meer oor:  Monique Muller  |  Katlego Maboe  |  Outsurance  |  Tv-Aanbieder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.