Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bok-helde val vir ‘piramideskema’

Van die land se voorste Springbokke se gesigte word gebruik om beleggers te werf in ’n internasionale maatskappy wat reeds in talle lande as 'n piramideskema beskryf is.

’n Aanlyn netwerkonderneming, Crowd1, gebruik beke
’n Aanlyn netwerkonderneming, Crowd1, gebruik bekendes soos die Springbok Duane Vermeulen se name om hul bedrywighede te bemark. Foto’s: Facebook

Die rugbyspelers Eben Etzebeth, Duane Vermeulen en Jacques Potgieter en die sanger Nicholis Louw is van die bekendes wat blykbaar reeds geld in ’n skema genaamd Crowd1 belê het en wie se foto’s gebruik word om nog meer liggelowiges te lok om die geldmasjien aan die rol te hou. Ook die TV-aanbieder en toerleier Ferdinand Rabie se gesig verskyn op ’n Facebook-blad wat die skema se lof besing.

Alhoewel finansiële owerhede wêreldwyd teen die skema waarsku, hou plaaslike beleggers vol dat dit heeltemal wettig en legitiem is.
“In die 50 dae wat ek deel is daarvan, het ek reeds R64 000 gemaak. Hoe meer jy insit, hoe meer kry jy uit,” het Jacques Thiel, ’n in- en uitvoerkontroleerder by ’n ingenieursmaatskappy in Bredasdorp, die afgelope week aan Rapport gesê en bygevoeg dat hy sy “huiswerk behoorlik gedoen het” voor hy ingekoop het.

Die Springbok Jacques Potgieter het Rapport onmiddellik probeer gerusstel toe die koerant wou weet of dit ’n piramide- of Ponzi-skema is.

‘Bly weg,’ is die raad van die beleggingsadviseur Magnus Heystek.

“Dis glad nie ’n scam nie. Dit is ook nie ’n belegging nie. Jy sit jou geld in en werf mense onder jou. Die idee is om vier mense te kry, wat vier mense kry, wat vier mense kry. Ek en my vrou (die aktrise Angelique Gerber) het R2 000 ingesit en binne agt uur agt mense gekry.”

Hy sê die skema werk sover vir almal – “vir my vrou, vir my skoonma. Jy kan (egter) nie R2 000 insit en oornag ’n miljoen verwag nie.”

Plaaslike finansiële raadgewers is egter ondubbelsinnig.

“Bly weg,” sê die beleggingsadviseur Magnus Hey­stek.

Heystek, direkteur van Brenthurst Wealth, sê die skema is bloot ’n selfoon-weergawe van dieselfde ou piramideskema-resep waarmee Suid-Afrikaners al male sonder tal gevang is: Kubus, Krion, Network, Rainbow en vele ander. Die verskil is dat die Crowd1-skema meer legitiem voorkom omdat dit deur ’n app werk wat jy op jou selfoon laai.

Heystek waarsku egter: “Almal werk op dieselfde beginsel en almal eindig op dieselfde manier. ’n Groot inploffing en dan vra almal: Hoekom het niemand iets gedoen nie?”

Hy sê die probleem is dat skemas soos hierdie nie by die finansiële owerhede hoef te registreer nie omdat hulle niks verkoop nie.
“Crowd1 verkoop geen onderliggende produk nie. Hulle genereer inkomste uitsluitlik deur die werwing van nuwe lede in die skema,” sê  Koshiek Karan, ’n Johannesburgse beleggingsbankier wat die skema Donderdag by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) verkla het. Hy eis ’n volledige, openbare ondersoek na Crowd1 en het ook mense op Twitter teen die skema gewaarsku.

Ferdinand Rabie is uitgenooi om by Crowd1 aan te s
Ferdinand Rabie is uitgenooi om by Crowd1 aan te sluit, maar het nog niemand gewerf nie. Sy foto en “verwelkoming” pryk egter op die “Work from Home South Africa” @Crowd1 Western Cape se Facebook-blad.

Crowd1 werk deur ’n selfoon-app wat jy op jou foon laai. Jy koop dan euro-gegronde pakkette of “eienaarsregte” wat tussen R1 600 en R40 000 kos teen die huidige wisselkoers. Dit maak jou klaarblyklik geregtig op ’n persentasie van die aansluitingstarief van enige nuwe lede wat jy werf.

Crowd1 se promosiemateriaal sê dat, soos Uber en Airbnb, wat nie karre of beddens besit nie, verkoop die firma niks en verskaf geen diens nie.

“Dit bemark gewoon ander maatskappye se digitale produkte en dienste.”

Etzebeth het Saterdag aan Rapport gesê baie mense het hom die afgelope tyd probeer oorreed om by Crowd1 aan te sluit. ’n Neef het uiteindelik aangebied om sy aansluitingstarief te betaal.

“Ek het gesê om mense te werf is nie my geaardheid nie. Toe sê my neef hy sal alles doen. Hy het ook vir my ’n rekening geopen.”
Hy sê hy het reeds sy neef gevra om ’n “plan te maak dat hulle my foto verwyder”.

Etzebeth sê hy sal nooit mense aanraai om by iets aan te sluit of geld op ’n spesifieke plek te belê nie. “Doen jou eie navorsing en besluit self. Op dié manier kan daar nooit vingers na iemand gewys word nie.”

Ferdinand Rabie, die eerste wenner van Big Brother in Suid-Afrika, het eergister gesê hy is uitgenooi om by Crowd1 aan te sluit, maar hy is te besig om daarby uit te kom.

“Daar is mense wat baie geld maak, tonne, maar ek werk 20 uur per dag. My eie familie sien my nie eens nie.”

Al sê hy dat hy “nog nie eens een mens gewerf het nie”, pryk sy foto wel op een van die talle Crowd1-Facebook-blaaie.

Die sanger Nicholis Louw sê hy is onlangs genader om aan te sluit en is oortuig dat jy nie geld kan verloor nie. “Daar is ’n eenmalige aansluitingstarief en geen maandelikse betaling nie.” Hy sê hy het binne drie weke reeds sowat R2 000 teruggekry.

Hy sê hy het geen probleem dat hulle sy gesig in bemarkingsmateriaal gebruik nie.

“Hulle moet seker ook voordeel trek daaruit,” het hy Saterdag gemoedelik gesê.

Duane Vermeulen het nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

Crowd1 is blykbaar verlede jaar deur die Sweed Jonas Werner gestig, met Johan Staël von Holstein, ’n hoëprofiel-internet-entrepreneur in Swede, as uitvoerende hoof.

Von Holstein beskryf die maatskappy as ’n “netwerkbemarkingsmaatskappy”, maar het verlede jaar in ’n onderhoud met die Sweedse webblad Trijo News erken dat Crowd1 geen produkte verkoop nie, buiten “opleidingsmateriaal” wat aan voornemende beleggers verkoop word. Hy het gesê die doelwit is om in die toekoms ’n “biblioteek van produkte” te hê om deur die platform en sy lede te bemark.

Volgens ’n advertensievideo wat op Australiese “beleggers” gemik is, het die maatskappy sedertdien twee produkte by die “biblioteek” gevoeg – ’n aanlyn dobbelblad met die naam Affilgo en Miggster, ’n onderneming  wat aanlyn speletjies bied.

Miggster is bloot ’n webblad met ’n belofte van ’n maatskappy wat nog gestig moet word, terwyl Affilgo  bande het met ondernemings wat internet-sportweddenskappe bied in Indië, Mexiko en verskeie Afrika-lande. Dit werk op dieselfde beginsel as Crowd1: Jy verdien kommissie op elke kliënt wat jy werf.

Luidens berigte het die maatskappy reeds in verskeie lande sy rieme styfgeloop. Die Noorweegse lotery-owerheid beskryf dit as ’n Ponzi-skema en die Namibiese owerheid het Crowd1 in Februarie ongewens verklaar en enige deelnemers aan die skema gewaarsku om op te hou lede werf. Finansiële owerhede in die Filippyne het die maatskappy ook opdrag gegee om onmiddellik sy “bedrieglike” bedrywighede te staak. Owerhede in Paraguay en Nieu-Seeland het ook al teen die skema gewaarsku.

Jonathan Ström, Crowd1 se hoof van ontwikkeling in Afrika, het verlede maand teenoor Moneyweb ontken dat hulle ’n Ponzi-skema bedryf.

Hy sê dis ’n “netwerkbemarkingsonderneming” wat inkomste verdien deur produkverkope. Die “onderrigpakkette” wat hulle aan nuwe lede verkoop, is só ’n produk.

Hoewel die skema wêreldwyd aktief is, is dit uit internetverkeer duidelik dat die meerderheid van die besoekers aan sy webblad – sowat 14% – uit Suid-Afrika kom.

Indië en Rusland is saam in die tweede plek, met elkeen wat 6,5% van die wêreldwye internetverkeer trek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.