Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bok-legende se seun breindood
Moaner en Wikus van Heerden Foto: Sport24

Hulle het eergisteraand reeds in hul harte afskeid geneem.

Nou wag die Springbok-legende Moaner van Heerden en sy familie op die onvermydelike – dat die masjiene wat sy seun, Gerhard (30), aan die lewe hou, afgeskakel word.

Gerhard is, volgens sy ouer broer, die rugbyspeler Wikus van Heerden (36), reeds breindood verklaar.

’n Reuse-aneurisme het sy lewe geëis. Hy is die pa van ’n eenjarige dogtertjie.

Die jongste van die Van Heerden-broers, Schalk (24), het gister op sy Facebook-blad die rugbyfamilie se seer in een sin opgesom: “Wens daar was net meer tyd saam gewees.”

Moaner (64) het verlede week ’n suksesvolle hartoperasie ondergaan.

Nou stoei hulle saam met hul broer se vrou, Janika, en hul eenjarige dogtertjie, Lara, deur die formaliteite wat betrokke is wanneer iemand breindood verklaar moet word.

Wikus se stem was gister tam en moeg toe hy oor die foon gepraat het. Die emosionele pad wat hulle al sedert Maandag gestap het, was duidelik.

Gerhard Lee Van Heerden (30), seun van die Springbok-legende Moaner van Heerden, saam met sy vrou, Janika, en klein Lara (1). Foto: Facebook

“My broer het Maandag, terwyl hy geoefen het, inmekaargesak. Hy is onmiddellik na die Pretoria-Oos-hospitaal geneem,” het Wikus gesê.

Gerhard is in die hoësorgeenheid opgeneem weens bloeding op die brein en in ’n geïnduseerde koma geplaas.

“Volgens die neuroloog het hy ’n reuse-aneurisme gehad. As gevolg van die bloeding op die brein kon hulle niks doen voordat die drukking verminder het nie,” het die ­ouer broer gesê.

Dinsdagoggend is ’n drukmonitor in Gerhard se skedel gesit, maar die drukking wou net nie stabiliseer nie.

Die dokter het glo lank met Janika gepraat, sê Wikus.

“Ons vermoed hy het Woensdagaand (eergisteraand) weer begin bloei en dat die drukking so hoog was dat hy van sy breinfunksies verloor het.

“Tans, as gevolg van die formaliteite betrokke by breindood, moet ons wag totdat sy liggaam sekere funksies verloor het. Omdat hy so jonk is, neem dit lank, dit kan ure of dae wees voordat die masjiene afgesit word,” was Wikus se woorde.

“Maar die familie en sy gesin het reeds in hul harte gisteraand (Woensdag) afskeid geneem van kind, man, pa en broer. Hy laat ’n ongelooflike sterk vrou en dogtertjie agter.”

Sedert die nuus oor Gerhard ­vroeër vandeesweek sy vriende bereik het, is sy Facebook-blad oorstroom met wense van beterskap en smeekgebede.

“So bly jy hou aan baklei,” het iemand aangemoedig.

Die Van Heerden-familie se reaksie daarop was: “Dankie. Ons is baie dankbaar vir almal se gebede en ondersteuning.”

Meer oor:  Springbok  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.