Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Bokke gaan beker vat!’

Oud en jonk het Woensdag op Loftus Versfeld in Pretoria geskarrel om ’n foto en handtekening van hul Springbokhelde in die hande te kry in die paar minute wat die oefengroep ná hul oefensessie afgeknyp het vir aanhangers.

Die Springbokke is besig met voorbereidings vir die naderende internasionale seisoen en Wêreldbekerrugbytoernooi.

Die Springbokke se eerste kragmeting in die Rugbykampioenskap is op 20 Julie teen Australië op Emirates Airline Park in Johannesburg en die wêreldbekerreeks skop op 20 September af.

In die oefensessie het aanhangers op die paviljoen die Bokke luidrugtig toegejuig.

Toe die oefening einde se kant toe staan, het hulle nader gekom en binne minute was daar byna ’n gestamp en ’n gestoot om by hul rugbyhelde uit te kom vir ’n kosbare handtekening.

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, Woensdag by die Springbokke se oefening op Loftus Versfeld in Pretoria.
Die Springbok-oefengroep hou ’n spanpraatjie ná hul oefening Woensdag op Loftus Versfeld in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Twee boeties, Ben (12) en Christiaan Mostert (8), woon in Birmingham, Engeland, maar ondersteun steeds die Springbokke. Hulle hou tans saam met hul ouers in Suid-Afrika vakansie en het gister die Bokke se oefening bygewoon.

Christiaan se gunsteling-Springbokspeler is Elton Jantjies omdat hy vir die Leeus speel. Hy sal graag eendag ook rugby wil speel, as ’n skrumskakel.

Sy ouboet, Ben, se gunsteling speler is Handré Pollard. Hy voorspel dat die Bokke goed sal vaar in die Wêreldbekertoernooi, maar dat dit steeds “tough” gaan wees.

Keagan Braum (13) van Johannesburg speel self rugby en ondersteun die Leeus. Hy is positief dat die Springbokke vanjaar goed sal vaar in die internasionale seisoen en die wêreldbekerreeks.

Amber Jevon (19) van Randburg was een van die min jong vroue wat haar ondersteuning kom bied het.

“Die oefening was goed en die spelers lyk sterk. Ek ondersteun die Bokke die hele pad,” sê sy.

Sheldon Paro (22) van Pretoria het Dinsdagaand te hore gekom van die oefensessie wat aanhangers kan bywoon en sê hy kon dit net eenvoudig nie misloop nie.

“Almal wat die Groen-en-Goud dra, is ons helde.

“Ons het groot vertroue in die span,” sê Paro.

“Daar is baie passie in die groep. Siya (Kolisi, kaptein) en Rassie (Erasmus, afrigter) is goeie leiers.”

Volgens hom dra veral Willie le Roux en Malcolm Marx die span goed.

“Ek weet die Springbokke gaan die wêreldbeker smash. Julle gaan Nieu-Seeland ’n les leer en die beker huis toe bring. Boks forever,” sê Paro in sy boodskap aan die Springbokke.

Siya Kolisi teken Keagan Braum (13) van Johannesburg se trui.
Ben Mostert (12), van Birmingham in Engeland, kry Handré Pollard se handtekening op sy trui.
Christiaan Mostert (8) wou ook Franco Mostert se handetekening op sy trui hê.
Duane Vermeulen warm op voor die Springbokke se oefening.
Meer oor:  Pretoria  |  Springbokke  |  Oefening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.