Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bokke in bitter Black Lives Matter-twis

Francois Pienaar se knieval om solidariteit te toon met die Black Lives Matter-beweging voor die onlangse Solidarity Cup-krieketwedstryd in Centurion het tot groot ongelukkigheid onder lede van die Springbokke se seëvierende Wêreldbekerspan van 1995 gelei.

Francois Pienaar met die Wêreldbeker ná die eindstryd in 1995. Christiaan Scholtz, Joel Stransky, en Morné du Plessis het nou die Springbokke se WA-groep verlaat. en Edward Griffiths, gewese uitvoerende hoof van Saru. Foto: Getty Images

Rapport verstaan dat daar ’n hewige bekgeveg daaroor op die ’95-Bokke se WhatsApp-groepie losgebars het – tot so ’n mate dat hul kaptein van destyds uiteindelik die groep verlaat het.

Van sy oudspanmaats het Pienaar gekritiseer en is skynbaar vies omdat hulle voel dat hulle, deur Pienaar se optrede, nou ook met die BLM-beweging geassosieer word.

Hulle het dit skynbaar duidelik gemaak dat hy dit sonder hul goedkeuring doen.

Pienaar was by dié krieketwedstryd as aandeelhouer in die maatskappy wat die regte van die nuwe drie-span-aan-’n-kant-formaat besit en het daarom saam met die spelers voor die wedstryd gekniel.

Die krieketspelers se knieval by die eerste 3TC-wedstryd het ongekende reaksie onder plaaslike sportliefhebbers uitgelok.

Alle lewens is ewe belangrik.

Jacques Faul, Krieket SA se waarnemende uitvoerende hoof, sê hy het die afgelope twee weke soveel dreigemente en haat verduur dat hy vir die eerste keer in sy loopbaan as sportadministrateur regshulp moes inwin om hom en sy gesin te beskerm.

“Ek kry die spelers wat gespeel het (in die 3TC-wedstryd) verskriklik jammer. Al wat hulle probeer doen het, is om te wys ons ondersteun nierassigheid en ons spreek ons uit teen diskriminasie. Mense heg nou ’n klomp ander goed daaraan wat onsin is. Dit word opgeblaas en uit verband geruk,” het Faul die afgelope week gesê.
(Lees die volledige onderhoud hier.)

Die debat onder die lede van 1995 se Wêreldbekerspan oor hul kaptein se BLM-saluut by die 3TC-wedstryd was skynbaar nie minder fel nie.

Die bespreking en meningsverskil op die spelers se WhatsApp-groep het so warm geword dat Pienaar uiteindelik genoop is om sy standpunt en optrede in ’n lang skrywe aan sy spanmaats te verduidelik, waarna sy spanmaats begroet is met die bekende WhatsApp-boodskap: “Francois Pienaar left.”

Vier ander spanlede het toe ook die groep verlaat. Dit is nie duidelik of hulle dit gedoen het uit solidariteit met Pienaar of omdat die toon van die gesprek hulle nie aangestaan het nie. Dié vier is Joel Stransky, wat die eindstryd met ’n skepdoel beklink het, die senter Christiaan Scholtz, die spanbestuurder, Morné du Plessis, en Edward Griffiths, gewese uitvoerende hoof van Saru en die man wat die slagspreuk “One Team, One Country” uitgedink het.

Francois Pienaar, Graeme Smith en Makhaya Ntini kniel voor die Solidarity Cup-krieketwedstryd. Foto: Lee Warren

Die 53-jarige Pienaar, wat die Springbokke in 29 toetse aangevoer het, het die afgelope week sy besluit om op Centurion te kniel verdedig en aan Rapport gesê: “Die vertrekpunt van BLM by die solidariteit-krieketwedstryd is dat ons teen enige vorm van rassisme en onderdrukking is.

“Ek wil ook graag na mense se stories luister. Soos ’n Makhaya Ntini s’n. Ek glo ook dat iemand soos (wyle) Chester Williams, wat deel van ons 1995-span was, met tye ongemaklik met sekere dinge was.”

Oor die debat onder veral wit Afrikaanssprekendes dat daar te veel klem op “swart lewens” is, terwyl die moorde op wit boere te min aandag kry, sê Pienaar: “Plaasmoorde is ewe walglik. Ek was in 2017 een van dié wat voor gestap het in ’n optog ná die plaasmoord van die Stellenbosse wynboer Joubert Conradie.

“Ek is teen enige moorde, verkragting en korrupsie. Veiligheid in ons land is nie wat dit moet wees nie. Mense moet nie bang wees nie. Ons moet saam bou aan ’n toekoms.

“Dit is maklik om iets te breek. Die vraag is hoe ons vorentoe kan bou. Om te bou moet ons luister en saamwerk, dit vat deernis en tyd.”

Hy sê daar word te veel van die meningsverskil tussen hom en sy spanmaats gemaak. “Die 1995-Bokspan is soos ’n familie. Families mag meningsverskille hê.”

Hy sê sulke goed het al in die verlede gebeur – soms verlaat ouens die groep en kom later, nadat dinge afgekoel het, weer terug.

“Wat my wel verbaas is dat die groep privaat is en dat die inligting uitgekom het. Ek is teleurgesteld dat wat bespreek word op die groep aan die media gelek is. Ek wonder hoekom?”

Intussen het die res van die span laer getrek en min van hulle wou enigiets meer oor die twis sê of op Pienaar se opmerkings reageer.

Een van die min oud-Bokke wat wel bereid was om te praat, was die oudslot Kobus Wiese. Hy het beklemtoon dat hy nie namens die span praat nie en gesê hy glo “alle lewens is ewe belangrik. Of dit nou bruin mense, Indiër-mense of wie ook al is, kinders wat gemolesteer word en alle vroue wat onder geslagsgebaseerde geweld ly – alle lewens is belangrik. As jy een ras uitsonder, dan is dit eenvoudig rassisties.”

Soos ander spanlede het Wiese Rapport na die oudsenter Hennie le Roux verwys as hul “woordvoerder”.

Le Roux het gister ’n kort, geskrewe verklaring uitgereik: “Ons (die 1995-span) bly ’n hegte en verenigde span, hoewel menings aangemoedig word en dit van tyd tot tyd kan verskil. Die land en al sy mense is onder groot druk en staan voor geweldige uitdagings. Die span se karakter is om vurige debat te voer, maar om te alle tye respekvol en saamgesnoer te bly.

“Ons grootste belang is en sal altyd bly om die land verenig te hou en in die proses standvastig te wees en enige vorm van verdeeldheid te ontmoedig. Die Reënboognasie maak saak.”

Stransky het bevestig dat hy die WhatsApp-groep verlaat het, maar wou hom nie verder oor die gebeure uitlaat nie. In ’n teksboodskap sê hy: “Ek word nie deur die groep verteenwoordig nie en wil verkies om nie betrokke te wees nie. Jammer.”

Du Plessis het ook aan Rapport gesê hy is nie bereid om oor ’n “private aangeleentheid” kommentaar te lewer nie.

Griffiths het gister gesê hy wil nie te veel van die meningsverskil maak nie.

“Dit is ’n WhatsApp-groep van mense wat 25 jaar gelede baie gedeel het. Daardie groep sal altyd verbind wees, en as daar tans ’n bietjie van ’n skeuring in die gesin is . . . dit gebeur in elke gesin. Ek dink geen gesin bestaan sonder hierdie soort dinge nie.

“Dit doen nie afbreuk aan wat die groep in 1995 bereik het nie, en doen nie afbreuk aan wat in ’n gesin eintlik ’n klein meningsverskil is nie.”

Hy sê die belangrikste is dat die groep saamstaan wanneer dit regtig saak maak tydens moeilike tye – soos onlangs met die heengaan van Chester Williams en James Small.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.