Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bokke kom straks later na Vrystaat en Noord-Kaap

Die Vrystaat en die Noord-Kaap sal dalk wel die feesvieringe met die Webb Ellis-trofee kan meemaak, maar eers later, danksy bykomende toere wat oorweeg word.

Vrystaatse en Noord-Kaapse ondersteuners is hewig ontsteld omdat hulle nie saam met hul Springbokhelde en die goue beker op hul oorwinningstoer gaan feesvier nie.

Rassie Erasmus en Siya Kolisi beur Dinsdagaand deur die skare met hul aankoms op die O.R. Tambo-lughawe aan die Oos-Rand. Vrystaters en Noord-Kapenaars wil ook graag in dié vreugde deel. Foto: Gallo Images

Talle betrokkenes by die Wêreldbekergroep, insluitend die hoofafrigter, Rassie Erasmus, het immers sterk verbintenisse met die Vrystaat.

’n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Woensdag aan Netwerk24 bevestig bykomende toere met die trofee word oorweeg.

“Moeilike keuses moes gemaak word om die maksimum aantal gewone Suid-Afrikaners binne die beperkinge wat tyd en geografie betref, met die toer te bereik,” sê die woordvoerder.

Die toer begin Donderdag amptelik in Gauteng waar die groep in Pretoria, Johannesburg en Soweto sal pronk. Vrydag kan Durbanse ondersteuners hulle sien en Saterdag is hulle in Oos-Londen. Die trofee blink Sondag in Port Elizabeth, met die toer wat Maandag in Kaapstad afsluit.

Netwerk24 het vroeër berig die Vrystaatse Rugbyunie sowel as die Griekwaland-Wes-rugbyunie het Saru versoek om die sentrale streek by die feesvieringe in te sluit.

’n Petisie is boonop Maandag op die webblad Change.org begin as ’n pleidooi dat die Springbokke en die trofee Bloemfontein met hul oorwinningstoer besoek. Teen Woensdagaand het meer as 7 600 mense die petisie onderteken.

Liza Jacobie sê in haar kommentaar op die blad Bloemfontein het ook die Bokke ondersteun: “Vrydae in Bloem was behoorlik groen.”

“Die trofee beteken soveel vir ons as Suid-Afrikaners en ons in Bloemfontein verdien ook om dit te sien en te deel in die geluk om as 2019-wêreldkampioen gekroon te wees,” sê Shaylee Myburgh.

Sanmari Els het haar misnoeë in ’n e-pos aan Volksblad uitgespreek. Sy meen Bloemfontein was goed genoeg vir die Bokke se oefenkamp ter voorbereiding van die Wêreldbekertoernooi, maar is nou nie goed genoeg om deel van die feesvieringe te wees nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.