Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Bokke oefen in geweld-geteisterde woonbuurt

Springbok-ondersteuners in die geweldgeteisterde woonbuurt van Belhar in Kaapstad het Donderdagoggend die nasionale rugbyspan eerstehands in aksie gesien toe hulle ’n ope oefensessie by die tuiste van Belhar-rugbyklub gehou het.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, oorhandig Donderdag ’n Springbok-trui aan Jerome (Donkie) Booysen, president van die Belhar-rugbyklub. Foto: Warda Meyer

Die veiligheidsmaatreëls by die sportveld in Belhar was baie streng en mense en voertuie is eers deursoek voordat hulle die sportgronde kon binnegaan.

Die helde se bus was ’n paar minute laat, maar toe die spelers op die veld uitdraf, het ’n entoesiastiese skare hulle toegejuig.

Dit was die tweede ope oefensessie in dié bendegeteisterde gebied en oud en jonk het saamgedrom om hul sporthelde van naderby te beskou.

’n Mengelmoes van skoolkinders, rugbyliefhebbers en ouers het die klein stadion volgepak en hul gunstelingspelers se name uitgeroep terwyl hulle die bal rondgegooi het. “(Eben) Etzebeth en Siya (Kolisi) julle is ons gunsteling,” het van die kinders uitgeroep.

Ander het geskree “Beeaaaaasssst” toe Tendai Mtawarira op die veld gedraf het.

Van die inwoners het op ’n nabygeleë sandkoppie wat oor die veld uitkyk, saamgedrom om die span dop te hou.

Die Springbokke deel handtekeninge uit in Belhar. Hier is Handré Pollard te sien. Foto: Warda Meyer
Die Bok Pieter-Steph du Toit het ook sy handtekening aan die kinders in Belhar uitgedeel. Foto: Warda Meyer
Siya Kolisi saam met die span se fisioterapeut op die rugbyveld in Belhar. Foto: Warda Meyer

Dié oefensessie by die Belhar-rugbyklub se sportgronde is deel van die Springbokke se #LoveRugby-veldtog. Daarmee word gepoog om bande te smee met die span se ondersteuners.

Dit was ’n intensiewe twee uur lange oefensessie, maar die Bokke het steeds die energie gehad om handtekeninge uit te deel en so blywende herinneringe vir die gemeenskap van Belhar te skep.

Kolisi, die Springbok-kaptein, het ’n Springbok-trui aan Jerome (Donkie) Booysen, die president van die Belhar-rugbyklub, oorhandig en hom bedank dat die Springbokke daar kon oefen. Booysen het op sy beurt gesê dat dit ’n eer was om gasheer vir die span te speel.

Die Springbokke Donderdag aan die oefen in Belhar. Foto: Warda Meyer

Booysen sê so lank as wat God hom spaar, sal hy seker maak dat die Springbokke elke jaar na die gebied kan terugkeer.

“Ons mense kan mos nie kaartjies bekostig om die span op Nuweland te gaan kyk nie, so hierdie is die beste manier om ons gebied se kinders ook die geleentheid te gee om hulle sportsterre te ontmoet,” sê hy.

Booysen, wat verlede Woensdag ’n sesde aanslag op sy lewe oorleef het, het Donderdag geen teken getoon van die trauma wat hy deurgemaak het nie.

Hy is in die Spur in die Soneike-winkelsentrum in Kuilsrivier, Kaapstad, aangeval, toe onbekende aanvallers in die restaurant op hom losgebrand het.

Booysen sê hy bou voort op sy oorlede pa, Arthur, se visie vir die rugbyklub. Hy sê dat die stigma wat aan hom kleef, glad nie weerspieël wie hy regtig is nie. “Ek is lief vir rugby en vir my gemeenskap. Rugby is hoe ons mense uit hul alledaagse lewe ontsnap.”

Kyk video: (

Meer oor:  Belhar  |  Bokke  |  Springbokke  |  Oefen  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.