Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bolhuis vat geld ‘en dis ook al’

Een van Suid-Afrika se bekendste ondersoekers, Mike Bolhuis, word nou self ondersoek.

Mike Bolhuis Foto: Deon Raath

Die voormalige Blou Bul-stut en prokureur Willie Hills sê hy is besig om die meriete van klagtes oor Bolhuis vir ’n groepsgeding te oorweeg.

Dit lyk of Bolhuis ’n gewoonte daarvan maak “om deposito’s te vat en dan verder niks werk te doen nie”, sê Hills.

Bolhuis ontken ten sterkste al die aantygings en sê hy oorweeg regstappe teen die mense “agter die smeerveldtog” teen hom. 

Hills sê Bolhuis lewer nie deeglike verslae of rekeninge nie.

“Dit druis in teen die Wet op Verbruikersbeskerming.

“Mike het ná verskeie versoeke vir ’n gedetailleerde rekening deur ’n kliënt ’n dokument verskaf met boksies wat afgemerk kan word. Een boksie is byvoorbeeld getiteld ‘speurwerk’ en ’n ander ‘internet-werk’, maar in dié geval was die regmerkie by ’n boksie getiteld ‘ander’.”

Dié kliënt, ’n boer van Thabazimbi wat anoniem wil bly, het Bolhuis in Desember verlede jaar ’n deposito van R50 000 betaal vir ondersoekwerk nadat hy vermoed het hy is vergif.

R5 000 vir die skryf van ’n brief.

“Die ondersoek sou R100 000 kos. Nadat ek my R50 000-deposito betaal het, het een van sy ondersoekers my verklaring kom neem,” sê die boer.

Twee dae later het sy huisdokter vir hom gesê toetse wys hy het brongitis wat in longontsteking omgeskakel het.

Toe hy die kontrak met Bolhuis wou kanselleer, het Bolhuis vir hom gesê hy “doen nie refunds nie”, sê die boer.

Rapport het die afgelope weke gepraat met verskeie ander mense, onder wie huisvroue en sakelui, wat ook vir Bolhuis kwaad is. Selfs ’n berugte motorfietsbende van Pretoria is op sy spoor.

’n Vrou van Krugersdorp wie se dogter en dié se ongebore baba vroeër vanjaar in ’n hospitaal dood is, sê sy het Bolhuis R5 000 betaal, maar al wat sy ondersoeker vir dié geld gedoen het, was om ’n brief te skryf.

“Op TV sê Mike altyd hy stap net by ’n plek in en sê ‘What the f*ck’ dan spring mense. Dis waarvoor ek hulle R5 000 betaal het, maar hulle het niks gedoen nie.”

Jack en Rina Smit van Germiston het verlede jaar vir Bolhuis R10 000 betaal vir hulp omdat hul versekering nie wou uitbetaal nadat Rina kanker gekry het nie.

“In Mei het ons Mike Bolhuis R10 000 betaal.

Mannetjies Geyser, president van die berugte Mac’s-motorfietsklub in Pretoria.

“Teen November wou hulle nog R10 000 hê om voort te gaan met die ondersoek,” sê Rina.

“Die werk wat hulle tot daar vir ons gedoen het, regverdig nie eens die eerste R10 000 nie, om nie eens van nóg te praat nie.”

Jan Woller van Meyerton sê hy was die slagoffer van ’n Ponzi-skema.

“Ek het ’n halfmiljoen rand in die vervaardiging van skaafmasjiene belê. Vir my belegging sou ek deel in die opbrengs wat elke maand met dié masjiene verdien word,” sê Woller.

Later sou hy uitvind sy “vennoot” vergoed hul beleggers uit nuwe beleggers se beleggings. Hy het Bolhuis R20 000 betaal om sy saak te ondersoek.

“Later het Mike vir my gesê . . . hy kan die verdagtes se banksaldo’s laat trek teen ’n verdere R20 000 per bankstaat. Ek kon dit nie bekostig nie en niks het verder gebeur nie,” sê Woller.

’n Enkelma van vier in Boksburg sê sy het haar laaste R1 000 vir Bolhuis gegee om te help om R166 000 terug te kry wat haar suster haar geskuld het.

Bolhuis het onder meer vir haar gesê sy tarief is “R10 000 vir ’n vrou en R20 000 vir ’n man”. “Ek kon bly wees ek is ’n vrou. Mike het gesê ek moet die res teen R1 000 per maand afbetaal,” sê sy.

Van dié ondersoek het ook dadels gekom.

“Hulle het gesê my suster is in debt review, so daar is nie veel wat ek kan doen nie. Maar ek het dit voor die tyd al vir hulle gesê!”

Ook sy beweer Bolhuis het vir haar gesê dat hy haar suster se bankstate teen ’n koste van R20 000 per bankstaat kan trek.

Sy het gesê Bolhuis moet liewer die ondersoek los, “maar hy het geweier om dit te aanvaar”.

Theuns van Schalkwyk van George het Bolhuis R10 000 betaal as deposito vir ’n ondersoek na ’n glyjakkals wat hom uit R170 000 verneuk het.

“Toe ek later opvolg, moes ek hoor hulle het die verdagte nie net opgespoor nie, hy is nou sommer onder Mike se beskerming, want gangster-sindikate wil hom doodmaak.

“Hoe vat jy mense se geld om iemand te soek en wanneer jy hom kry, vat jy geld om hom te beskerm – ook teen die mense wat jou betaal het om hom op te spoor?”

Mannetjies Geyser, president van die berugte Pretoriase motorfietsbende die Mac’s, sê Bolhuis het ’n vete teen sy motorfietsklub.

“Mike ondersoek ons al kamtig al langer as 20 jaar, maar hy het nog nie een keer ’n suksesvolle vervolging teen ons gehad nie. Inteendeel, hy meng die hele tyd in by ons hofsake om ons sake te bemoeilik, maar nie eens dit werk nie,” sê Geyser.

Hy sê dié vete het begin nadat een van sy klublede, Johan Bruyns, Bolhuis in die laat 1980’s in ’n kroeg se parkeerterrein getakel het.

“In ’n stadium was dit net Bruyns se vuishoue wat Mike regop gehou het. Die paramedics moes 45 minute aan hom werk voordat hulle hom kon laai. Van toe af is ons in mekaar se hare.”

Mike antwoord op bewerings

Mike Bolhuis se prokureur, Rehan Coetzee van Steenkamp & Jansen Ingelyf, sê die bewerings deur Bolhuis se kliënte en oor die I Am Recovery Ministries-rehabilitasiesentrum is vals “en gee nie die werklike instruksies, opdragte, advies en dienste gelewer deur ons kliënt weer nie”.

Hy sê in al die gevalle is Bolhuis se dienste “behoorlik en professioneel gedoen”.

Hy sê Bolhuis gaan nie vertroulike inligting van die klaers bekend maak “bloot om sy onskuld te bewys of om te bewys dat die klagtes geen meriete het nie”.

Bolhuis nooi die klaers om met hom te skakel sodat hy die klagtes, waarvan hy nou eers gehoor het, kan bespreek en probeer om dit op te los, sê Coetzee.

Andersins kan die klaers regstappe doen as hulle dan werklik glo dat hul klagtes meriete het “en nie net poog om ’n smeerveldtog te dryf” nie.

Bolhuis, sê Coetzee, vermoed dat hy die slagoffer is van ’n smeerveldtog deur die klaers.

“Ons het geen twyfel dat enige eis suksesvol deur ons kliënt weerlê sal word nie.”

Volgens Coetzee het hulle reeds aan adv. Willem Edeling opdrag gegee om te help met “remedies om ons kliënt se goeie naam te beskerm”.

Coetzee sê Bolhuis en sy kollegas neem met elke opdrag behoorlike opdragte van die kliënt. “Daar word nooit, soos nou deur van die klaers beweer, net ’n brief geskryf nie.”

* Lees ook hier.

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Rina Smit  |  Speurder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.