Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bomplanter gee Comrades-medalje aan slagoffer
Stefaans Coetzee, een van die Worcester-bomplanters, saam met Olga Macingwane, een van die slagoffers, nadat hy sy Comrades-medalje vir haar gegee het. Coetzee het Macingwane, wat weens haar beserings destyds tot vandag toe mank loop, as ’n merkwaardige vrou beskryf. Foto: Verskaf

Toe Stefaans Coetzee, een van die Worcester-bomplanters, Vrydag in Klerksdorp sy Comrades-medalje vir Olga Macingwane, een van sy slagoffers gegee het, was dit om hulde te bring aan wat hy bestempel as een van Suid-Afrika se merkwaardigste vroue.

“Ek glo dat sy ’n wonderlike storie het wat nie net Suid-Afrikaners dieper na vergifnis sal laat kyk nie, maar ook die wêreld,” sê Coetzee.

Macingewane was een van die slagoffers van ’n bom wat Coetzee en drie ander AWB-lede in Desember 1996, op die vooraand van Kersfees, voor ’n winkelsentrum in Worcester geplant het.

Altesaam 67 mense is in dié ontploffing beseer en vier (drie kinders) het gesterf. Twee ander bomme wat geplant is, het nie afgegaan nie.

Macingewane is só erg beseer dat sy vandag nog effe mank loop. Ten spyte hiervan was sy die eerste van die slagoffers om Coetzee te vergewe. Sy het hom ook ’n paar keer in die tronk besoek.

Uit hul geselsies het sy tot die besef gekom dat Coetzee nie ten volle die blaam kan dra vir wat gebeur het nie omdat hy net 17 jaar oud was toe dit gebeur het.

“Dit was God wat my die insig gegee het om Stefaans te vergewe.”

Op skool was Coetzee se groot droom om soos sy helde Bruce Fordyce en Nick Bester aan die Comrades deel te neem.

Ek het God belowe wanneer ek eendag aan die Comrades deelneem, sal elke tree wat ek gee ’n huldeblyk aan die slagoffers en hul families wees.

Stefaans Coetzee, een van die Worcester-bomplanters, neem aan die Comrades-marathon deel ná 19 jaar in die tronk. Dit was sy lewensdroom om aan dié wedloop deel te neem. Foto: Verskaf

“Ten spyte daarvan dat ek 19 jaar in die tronk was, het ek nooit my droom laat vaar nie. Ek het God belowe wanneer ek eendag aan die Comrades deelneem, sal elke tree wat ek gee ’n huldeblyk aan die slagoffers en hul families wees.”

Coetzee is verlede jaar vrygelaat en het vanjaar die kans gekry om die Comrades aan te durf.

“Dit was ’n ongelooflik emosionele ervaring en iets wat ek nooit sal vergeet nie. My deelname aan die Comrades het my laat besef met God se krag is ek tot enigiets in staat.”

Sy deelname het hom geïnspireer om sy ervaring in gedig vas te vang:

“Sweet; biggel oor my wange; soos jul trane van verlange; na ’n kind; ek sien jul saam draf; die bulte van vergifnis uitstoei; doof; vir die skare se applous . . .”

Volgens Coetzee het hy nooit gedink hy sal sy eerste Comrades-medalje weggee nie. Dit was iets wat hy altyd wou koester.

“Maar toe ek ’n bietjie oor die Comrades se geskiedenis begin oplees, kom ek agter Vic Clapham se idee was dat die wedloop ’n manier moet wees om die slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog te vereer. Dit het my laat besluit om my medalje vir Olga te gee.”

Macingewane erken dat sy heeltemal oorbluf was toe Coetzee sy medalje vir haar gegee het.

“Ek het dit glad nie verwag nie, maar dit is baie spesiaal.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.