Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Boot slaan om: Soektog duur voort in onstuimige see

’n Tragedie op see aan die Kaapse kus het Donderdag vroeg die lewe van minstens een jong man geëis en tot ’n grootskaalse soektog na nog sowat ses vermiste mense in erg onstuimige seetoestande gelei.

Die boot wat in die see omgeslaan het, word Donderdag by die Kaapstadse hawe ingesleep. Foto: Jaco Marais

Twee mans is met die hulp van helikopters uit die see gered in die omgewing van Bakoven. Nog drie mans het self na veiligheid geswem. Twee van hulle het glo van die toneel af verdwyn, terwyl die derde een die polisie gekontak het.

Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê daar kon teen Donderdag laatmiddag nog nie met sekerheid gesê word of vyf of ses mans nog vermis word nie omdat daar toe nog nie met al die families kontak gemaak kon word van mans wat dalk uit op die see was nie.

Die soektog tussen Seepunt en Oudekraal het laatmiddag voortgeduur.

Roscoe Jacobs, ’n jeugaktivis van Hangberg in Houtbaai, sê van die bemanning was jong mans van tussen 17 en 21 jaar oud. Hy sê armoede en werkloosheid is ’n groot probleem in dié gemeenskap en die mans gaan uit op die see ter wille van oorlewing. Hy kan nie sê of dié groep gaan visvang of perlemoen uithaal het nie.

“Vir ons is dit nie onwettig nie. Die mense roof en moor nie, hulle gaan uit op die see om ’n inkomste te probeer verdien,” sê Jacobs in reaksie op bewerings dat die mans by onwettige visvang betrokke kon wees.

Hy het gevra dat mense saam met die inwoners van Houtbaai bid vir die slagoffers.

“Van die mans is jong mense. Die minister van visserye moet asseblief Houtbaai toe kom en help met programme vir werkskepping sodat hulle nie by so ’n negatiewe ekonomie betrokke raak nie.

“Hoeveel mense moet nog op see sterf voordat daar na ons pleidooi as jong mense geluister word?” vra Jacobs.

Die leë boot. Foto: Jaco Marais

Lambinon het Donderdag teen 14:45 gesê die lyk van ’n man is uit die see gehaal en na die NSRI-stasie by Bakoven geneem. Paramedici op die toneel het die man dood verklaar en die polisie se forensiese deskundiges het die lyk verwyder.

Daar is ter see en op die strand na die vermiste mans gesoek. Familielede van die vermiste persone is ook gevra indien hulle dalk op hul eie by die huis aankom, om die owerhede in kennis te stel.

Die grootskaalse soektog in ’n onstuimige see en aan die kusgebied het ’n weermaghelikopter, bemanning van drie NSRI-stasies, die polisie, ER24 asook Community Medics, die Kaapse metro, die provinsiale EMS-ambulansdienste en vrywilligers van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) ingesluit.

’n Vrywilliger van die NSRI stap Donderdag uit die seewater tydens die grootskaalse soektog na oorlewendes. Foto: Adrian de Kock

Sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, sê twee bote “met tot 13 mense” aan boord het Woensdagaand omstreeks 20:00 uit Houtbaai vertrek.

“Toe water in een van die bote begin instroom, het die bemanning van daardie boot oorgespring na die ander boot. Die tweede boot het hierna omgeslaan,” sê Rwexana.

Volgens Lambinon het die boot tussen Clifton en Oudekraal omgeslaan.

NSRI-lede van Bakoven, Houtbaai en Tafelbaai neem aan die soektog deel.

Bykomend tot die soektog is lede van die EMS-nooddiens, die AMS-nooddiens, die lugmag, ER24 se ambulansdienste, wetstoepassers en die polisie op die toneel.

Dis nog nie duidelik of al die vermiste mense steeds in die see is nie.

Meer oor:  Kaapstad  |  See  |  Vermis  |  Verdrink  |  Redding  |  Boot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.