Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Botsing: Luukse Shosholoza Meyl vorige dag uit Kaap weg

Die Shosholoza Meyl-trein wat Woensdagaand in Roodepoort teen ’n goederetrein gebots het, het Dinsdag met 36 passasiers en 14 personeellede aan boord uit Kaapstad vertrek.

Luidens ’n verklaring deur Nana Zenani, woordvoerder van die Passasierspooragentskap (Prasa), het vyf van die passasiers op Kimberley afgeklim voordat die trein sy rit na Johannesburg voortgesit het.

’n Man is in die ongeluk dood en ’n vrou wat ure lank ná die ongeluk in een van die treinwaens vasgekeer was, is in ’n kritieke toestand per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal geneem.

“Die eersteklas-passasierstrein het teen ’n stilstaande goederetrein tussen die Roodepoort- en Horizonstasies in Johannesburg se westelike voorstede gebots. Vier passasiers is beseer en na ’n hospitaal in Krugersdorp geneem. Een passasier is ernstig beseer en per helikopter na die hospitaal geneem. Daar was ongelukkig ook een sterfte.”

treinongeluk
Die Shosholoza Meyl-trein het omstreeks 21:00 teen ’n goedere trein gebots. Foto: ER24

Luidens Zenani is alternatiewe vervoer vir die res van die passasiers na verskeie bestemmings gereël.

“Die ongeluk word deur Prasa se hooflyndiensspanne ondersoek wat op die toneel was om die oorsaak van die ongeluk vas te stel.”

Geen Metrorail-treine het Donderdagoggend tussen Randfontein en Johannesburg geloop nie weens die ongeluk en die diens gaan voorlopig tot Saterdag opgeskort bly.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het intussen in ’n verklaring benadruk dat ’n behoorlike ondersoek na die oorsaak van die ongeluk gedoen moet word. Hy het sy medelye aan die naasbestaandes van die man betuig wat in die ongeluk dood is en die hoop uitgespreek dat diegene wat beseer is volkome gaan herstel.

“Die minister verwelkom die polisieondersoek wat gedoen word, asook die ander ondersoeke. Minister Mbalula het volle vertroue dat die administrateur, in samewerking met die betrokke owerhede, die oorsaak gaan vind en strategieë gaan bedink om soortgelyke voorvalle in die toekoms te vermy.”

Shaun Herbst, Netcare911-woordvoerder, het aan Netwerk24 bevestig die vrou wat per helikopter na die Milpark-hospitaal vervoer is, was Donderdagoggend steeds in ’n ernstige toestand in die Milpark-hospitaal.

’n Man is dood en ’n vrou is kritiek beseer in ’n treinbotsing in Roodepoort. Foto: Netcare911 en ER24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.