Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Rusie' - toe vlieg hy die klubhuis in
Charl en Natasha Viljoen op hul troudag. Foto: Facebook
Die KingAirB200 vlieg laag oor die Matsieng-landingstrook in Botswana. Foto: VERSKAF

Indien ’n vriend van die vlieënier van Botswana wat met ’n vliegtuig in ’n klubhuis ingevlieg het, nie onraad vermoed het nie, sou meer as 50 mense in Saterdag se tragedie gesterf het.

Charl Viljoen (37), ’n vlieënier van Kalahari Air Services is dood toe hy Saterdag in ’n KingAirB200-vliegtuig in die Matsieng-landingstrook se klubhuis vasgevlieg het. Dit is in Rasesa, sowat 40 km noord van Gabarone.

“Dit is ’n absolute genade van Bo dat niemand anders seergekry het nie,” het ’n vlieënier, wat nie genoem wil word nie, Sondagmiddag gesê.

Video’s van die selfdoodvlug het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

In die video’s kan gesien word hoe die KingAirB200 laag oor die landingstrook vlieg kort voordat dit in die klubhuis inploeg.

Minstens 11 voertuie, waaronder motors en bakkies, is in die vlammehel vernietig. Swart rookwolke het in die lug gehang terwyl mense mekaar gewaarsku het om nie naby die klubhuis te kom nie.

Vlamme verswelg motors by die Matsieng-vliegklub in Botswana. Foto: VERSKAF

Viljoen en sy vrou, Natasha (32), het Saterdag ’n ooievaarspartytjie by die Matsieng-vliegklub bygewoon. Naruschka Winter, Natasha se suster, sê dit was ’n vriendin van Natasha se ooievaarspartytjie. Die Viljoen-egpaar is Suid-Afrikaners wat die afgelope sowat tien jaar in Botswana woon.

Volgens mense wat Saterdag se partytjie bygewoon het, het die egpaar glo stry gekry. Dit is nie duidelik wat tot die beweerde rusie gelei het nie. Viljoen was glo besope.

Van die gaste het glo aangedring dat Viljoen die partytjie verlaat. “Daar is vir hom gesê dat hy nie ’n vrou so kan behandel soos wat hy teenoor sy vrou opgetree het nie.”

Winter hou egter vol dat haar suster en swaer nie rusie gemaak het nie. “Ek wil nie daaroor uitbrei nie. Ek dink niemand sal ooit weet wat deur sy kop gegaan het op daardie oomblik nie.”

Viljoen het, nadat hy in sy motor weg is by die vliegklub, na die Sir Seretse Khama- Internasionale lughawe in Gaborone gery. Kalahari Air Services is by dié lughawe gebaseer.

Dit is onduidelik hoe Viljoen toegang tot die KingAirB200 gekry het. Hy het daarin teruggevlieg na die Matsieng-klubhuis.

Op pad soontoe het hy ’n vriend van hom uit die vliegtuig gebel. “Hy het gevra waar sy vrou, Natasha, is. Die man het gelukkig kop gehou en besef die ou beplan iets. Hy het geskree dat almal uit die gebou moet kom,” het die anonieme vlieënier gesê.

Daar was digby 50 mense, wat etlike kinders insluit, in die klubhuis. Almal kon betyds uitkom voordat die vliegtuig die klubhuis getref en dit in ’n vlammehel verswelg is.

The Voice, ’n plaaslike koerant in Botswana, sê nie een van die gaste is beseer nie.

Charl Viljoen, 'n vlieënier van Botswana, is Saterdag dood toe hy met 'n vliegtuig in ’n vliegveld se klubhuis vasgevlieg het. Foto: FACEBOOK
Charl en Natasha Viljoen. Foto: Facebook
Charl Viljoen en sy vrou, Natasha. Foto: FACEBOOK
Charl Viljoen, 'n vlieënier van Kalahari Air Services in Botswana. Foto: FACEBOOK

Dipheko Mothube, ’n polisiewoordvoerder in Botswana, het aan The Voice gesê iemand by ’n gastehuis in Rasesa het die polisie gebel. Die polisie en brandweer het hulle na die vliegklub gehaas.

Viljoen is glo na die Deborah Retief-gedenkhospitaal in Mochudi, 37 km noord-oos van Gaborone, gehaas waar hy dood verklaar is.

Natasha Viljoen het nie Sondag op boodskappe reageer nie. Op haar Facebookblad is verskeie foto’s van haar en Charl in gelukkiger tye. “Droom asof jy altyd gaan leef. Leef asof jy vandag gaan sterf!” is ’n leuse op haar Facebookblad. Die egpaar het ’n sewejarige seun.

Volgens Winter is haar suster se handsak met haar selfoon in ook in die brand verwoes.

Noel FitzGerald, eienaar van Kalahari Air Services, het aan Andrea Küsel, ’n verslaggewer van Netwerk24, gesê hy weier om enigiets oor die voorval te sê.

Meer oor:  Charl Viljoen  |  Botswana  |  Selfdood  |  Vliegtuigongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.