Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Brackenfell lig mislukking van samelewing uit’

Die herrie wat rondom ’n skool in Brackenfell in die noordelike voorstede van Kaapstad uitgebreek het, lig die mislukking van die samelewing uit om rassisme uit te roei.

Thabo Makgoba, aartsbiskop van die Anglikaanse kerk in Kaapstad, sê die konflik wat rondom dié skool uitgebreek het, dui daarop dat die samelewing, veral ouers en onderwysers, nie geslaag het om rassisme tussen kinders uit te roei nie.

Thabo Makgoba, aartsbiskop van die Anglikaanse kerk in Kaapstad. Foto: Twitter/ Thabo Makgoba

“Die konflik wys hoe die samelewing misluk het om rassisme tussen ons kinders uit te roei. As ouers en onderwysers nalaat om hierdie waarskuwing te hoor wat in Brackenfell gebeur het, is hul kinders ook in gevaar om in die toekoms deur dieselfde omstandighede gekonfronteer te word.”

Die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad is die afgelope weke in die nuus nadat ’n rasherrie rondom die skool losgebars het weens ’n “matriekafskeid” wat kwansuis net deur wit leerlinge bygewoon is.

Die EFF het twee weke terug by dié skool gaan betoog, maar is deur nagenoeg 300 ouers en gemeenskapslede voorgekeer voordat hulle by die skool kon uitkom.

Lede van die EFF het Vrydag by die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad betoog. Foto: Adrian de Kock

Dié twee groepe het slaags geraak en mekaar met klippe en wapens gepak, terwyl die polisie skokgranate moes afvuur om die betogers uiteen te dryf.

Makgoba meen hierdie konflik behoort ’n wekroep vir ander skole te wees.

“Die vrees en spanning waaraan kinders by ’n Brackenfell-skool blootgestel word, is ’n wekroep vir elke ouer en skoolbeheerliggaam in Suid-Afrika.”

Makgoba sê Suid-Afrika is nou al 25 jaar ’n demokratiese land, maar dit is steeds onaanvaarbaar dat kinders ander kinders openlik veroordeel, asook lelike en rasgedrewe aanmerkings teenoor mekaar maak.

“Dit is meer onaanvaarbaar dat die ouers van hierdie kinders hul kinders grootmaak om te dink daar is niks met stereotipering rondom ras verkeerd nie.”

Makgoba meen dit is ook “onaanvaarbaar” dat ouers private partytjies reël waar toegang beperk word vir mense wat nie sulke partytjies kan bekostig nie.

Die rasherrie by die Hoërskool Brackenfell wys op die mislukking van die samelewing, meen die aartsbiskop. Foto: Adrian de Kock

“Dit is ook onaanvaarbaar dat politieke partye en regeringsinstansies 30 jaar nadat die Nasionale Vredesverdrag ’n raamwerk vir betogings saamgestel het, steeds nie kan ooreenstem oor hoe om vreedsaam te betoog nie.”

Hy sê dialoog is nie opsioneel in Suid-Afrika nie, maar moet liewers as dringend gesien word as die land ’n nie-rassige toekoms wil binnegaan.

Die EFF het weer Vrydag buite die Hoërskool Brackenfell betoog, waar nege mense in verband met die betogings in hegtenis geneem is.

Hulle verskyn Maandag op aanklagte van aanhitsing tot geweld en openbare geweld in die landdroshof in Blue Downs.

Meer oor:  Thabo Makgoba  |  Wes-Kaap  |  Kaapstad  |  Brackenfell  |  Geweld  |  Skool  |  Betoging  |  Matriekafskeid  |  Leerlinge  |  Hoërskool Brackenfell  |  Gemeenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.