Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brakpan-begrafnisse reeds betaal, sê familie
Die toneel waar die vier oorledenes gevind is. Foto: Verskaf

’n Plasing doen op sosiale media die ronde waarin skenkings gevra word vir die gesamentlike begrafnis van Sandra Schwartz (39) en haar drie kinders – maar familie sê die begrafnis is klaar betaal.

Sy is op Woensdag 10 Julie onder raaiselagtige omstandighede saam met haar kinders, Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10), in hul huis in Sallies Village, Brakpan, dood aangetref.

Volgens bure het haar man, Johan Schwartz, omstreeks 17:00 ná werk op hul lyke afgekom. Rook het by die huis uitgeborrel.

Adéle van Zyl, ’n bloemis van Brakpan, het Vrydag op Facebook gevra dat geld in Schwartz se bankrekening inbetaal word weens die dood van sy gesin, wat hom in ’n “finansiële verknorsing gedompel” het.

“Met vier begrafnisse om te betaal weet hy (Schwartz) nie hoe hy dit sal kan bybring nie. Daar word ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hom by te staan,” lui die plasing, waarmee R40 000 glo ingesamel moet word.

Daar word geskryf dat dié geld ook deur hom gebruik sal word vir die herstel van brand- en rookskade aan sy huis, sowel as om die skoonmaakproses te dek.

Ds. Johan van der Merwe van Martin’s Funeral Services, wat die gesamentlike diens Dinsdag in die NG kerk Greymont help reël, het egter Sondag bevestig dat die begrafniskoste reeds gedek is.

Netwerk24 kon nie bevestig of die bankrekeningnommer op die Facebook-plasing wel Schwartz s’n is nie.

Die sitkamer waar die oorledenes gevind is.Foto: Verskaf

Nié Van Zyl óf Schwartz het Sondag op navrae gereageer nie.

Schwartz se broer, Stevens, wou nie kommentaar lewer nie. “Luister mooi, wat ook al julle berig, moenie ons elke keer bel nie. Ons antwoord sal altyd nee wees. So skryf gerus julle k*k,” het hy gesê.

Sandra se swaer, Jan Symons, het bevestig dat haar familie die hele bedrag van R85 000 vir die begrafnis betaal het.

“Johan Schwartz het wel daarop aangedring om ’n deel van die begrafnis te betaal, maar ek het reeds aan hom aangedui dat alles klaar betaal is,” sê hy.

Kapt. Pearl van Staad, polisiewoordvoerder, sê die polisie het nie ’n klag oor die Facebook-plasing ontvang nie.

* Die polisie ondersoek drie klagte van moord en ’n geregtelike nadoodse ondersoek word gedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.