Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brakpan-pa stort ineen langs grafte

Speelgoeddrake en -dinosourusse het tussen die blomme op Simeon Schwartz (10) se wit kissie gelê.

Karlien van Jaarsveld sing die lied My kruis by die begrafnis van Sandra Schwartz (39) en haar drie kinders, Simeon (10), Shereé (19) en Lee-Ann (16), wat op 10 Julie in hul huis in Brakpan dood aangetref is. Foto: Deaan Vivier

Hy is Dinsdag saam met sy ma, Sandra (39), en twee halfsussies, Shereé (19) en Lee-Ann (16), begrawe.

Die polisie ondersoek nog die omstandighede rakende hul dood.

Sandra en haar kinders is 10 Julie met koeëlwonde in hul huis in Sallies Village in Brakpan aan die Oos-Rand aangetref.

Johan Schwartz (41), Sandra se man, was gebroke op die begrafnis. By hul grafte het by onbedaarlik gehuil en inmekaar gesak. ’n Stoel is nader gebring waarop hy gaan sit en in sy hande geween het.

Twee vriende het hom later opgehelp om die grafte toe te gooi en hom styf onder die arms vasgehou.

“Totsiens, my seuntjie,” het Schwartz gesnik toe hy oor Simeon se graf gestaan het.

Simeon is tussen sy ma en sussies begrawe. In die kerk het sy kissie ook tussen hulle s’n gestaan, met kleurvolle ruikers bo-op. Op elkeen was daar kersies wat aangesteek is om hul lewe te gedenk.

Dinosourusse en drake tussen die blomme op die tienjarige Simeon Schwartz se kis. Hy is Dinsdag saam met sy ma en twee sussies begrawe. Foto: Deaan Vivier

Sydney Steinmann, Lee-Ann en Shereé se pa en Sandra se eerste man, het hul kersies aangesteek terwyl sy hande geruk het. Ook hy het gesukkel om die trane te keer. Schwartz het Simeon se kersies aangesteek, terwyl Sandra se familie haar kersie aangesteek het.

“Ons staan vandag verslae hier en het nie antwoorde of troos vir wat gebeur het nie,” het ds. Louis Forsman vir die familie gesê tydens die diens in die NG kerk Greymont in Roodepoort.

Sandra se broers en susters het hul ma, Levina Britz, wat voor in die kerk gesit het, ondersteun. Sy het kort-kort teen die trane baklei.

’n Gewyde atmosfeer het geheers waar die vier wit kiste voor in die kerk gestaan het. Langs die kiste was groot foto’s van die oorledenes wat deur flikkerende kerse omring is, terwyl die geur van jasmynwierook swaar in die lug gehang het.

“Vee af die trane en moenie ween nie, hulle was vir ons vir ’n tydjie geleen,” was die boodskap van die begrafnisdiens.

Renier Britz, ’n broer van Sandra, sê vir haar het dit gegaan om in liefde en vrede te leef.

“Ons het geen antwoorde nie, maar ons is nie hier om te oordeel nie. Jesus alleen weet wat gebeur het,” het ’n bewoë Britz gesê.

Sydney Steinmann, pa van Lee-Ann en Shereé, steek Dinsdag een van die kersies op sy dogters se kiste aan. Foto: Deaan Vivier
Johan Schwartz (middel) word deur sy buurman Mark Graham (links) en vriend Lammie du Toit ondersteun. Foto: Deaan Vivier
Johan Schwartz word Dinsdag deur vriende bygestaan. Foto: Deaan Vivier
Familie en vriende groet finaal vir Sandra en haar kinders by die Wespark-begraafplaas waar hulle Dinsdag begrawe is.Foto: Deaan Vivier
Johan Schwartz was Dinsdag ontroosbaar by die begrafnis van sy vrou, haar twee dogters en hul seun. Foto: Deaan Vivier
Oral in die kerk was daar Dinsdag kersies aangesteek by foto’s van Sandra (regs) en haar drie kinders, Simeon, Shereé en Lee-Ann. Foto: Deaan Vivier
Levina Britz, Sandra se ma, kry ’n vertroostende drukkie by haar dogter en drie kleinkinders se begrafnis. Foto: Deaan Vivier
Karlien van Jaarsveld sing die lied My kruis by die begrafnis van Sandra Schwartz (39) en haar drie kinders, Simeon (10), Shereé (19) en Lee-Ann (16), wat op 10 Julie in hul huis in Brakpan dood aangetref is. Foto: Deaan Vivier

Terwyl die kiste uit die kerk gedra is, het Karlien van Jaarsveld My kruis op versoek van die familie gesing.

Sy sê “die hele ding het haar geruk”.

“Ons het baie vrae, maar nie baie antwoorde nie.”

Haar boodskap van bemoediging vir die Britz- en Schwartz-families het uit Jesaja 23 gekom.

Simeon is langs sy ma begrawe, met Shereé langs hom en dan Lee-Ann.

Familie het by hul grafte in die Wespark-begraafplaas gaan afskeid neem en roosblare en boodskappies in die grafte gegooi.

“My binneste is stukkend . . . daar is nie woorde nie, ek voel oorweldig,” het Levina ná die tyd gesê.

Schwartz het ’n entjie weg onder ’n boom gestaan en gekyk hoe die grafte toegegooi word. Hy wou nie met die media praat nie. Gerda, sy suster, het gesê haar broer sal later ’n verklaring uitreik.

Die polisie ondersoek drie klagte van moord en ’n geregtelike nadoodse ondersoek word gedoen.

Meer oor:  Brakpan  |  Oos-Rand  |  Ma  |  Seun  |  Doodgeskiet  |  Begrawe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.