Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brakpan-tragedie: Familie sou saam ma se 40ste vier

Sandra Schwartz, wat verlede maand saam met haar drie kinders dood aangetref is in hul huis in Sallies Village in Brakpan, sou Sondag haar 40ste verjaarsdag gevier het.

Die ma van Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10) is saam met haar kinders op 10 Julie in ’n treurspel dood.

Sandra Schwartz (39)Foto: Verskaf

“Ek is stukkend . . . soms dink ek ek hoor haar met my praat,” het Levina Britz, Sandra se ma, Vrydag gesê.

Sy en haar oorblywende sewe kinders beplan om die naweek Sandra en die kinders se grafte te besoek en blomme vir hulle neer te lê.

Hulle is op 23 Julie in die Wespark-begraafplaas begrawe, enkele meter van hul geliefde oupa en pa Nicolaas, Levina se oorlede man.

In die verlede sou hulle bymekaargekom het om lekker saam te kuier en Sandra se verjaarsdag te vier, sê Levina.

Sedert die begrafnis sukkel sy om aan te pas by ’n lewe sonder haar en Nicolaas se liefling-dogter – hul middelste van agt kinders.

“Ek was trots op Sandra, soos ek trots is op elkeen van my kinders,” sê Levina.

Netwerk24 het haar Donderdag besoek, net ’n bietjie meer as ’n maand nadat die opspraakwekkende treurspel hul hegte gesin getref het.

Buiten vir haar “deurmekaar binneste” sukkel sy meer as vantevore met haar gesondheid.

“Ek vat en los hier en daar, my huis is net so deurmekaar soos my binnekant,” sê Levina.

Sandra se drie kinders, Simeon (voor) en Shereé en Lee-Ann agter hom. Foto: Verskaf

Sy word bygestaan deur haar ander kinders wat elke dag inloer om seker te maak hul ma is nooit alleen nie.

Ryno, een van Sandra se broers, het juis vir die week uit Knysna kom kuier.

Hy worstel soos sy ma en ander sibbe met vreeslike vrae oor wat daardie dag in Modderstraat 3 gebeur het.

Die familie hoop die polisie-ondersoek, wat nog voortduur, sal van hul vrae beantwoord.

Hulle kan hulself nie vereenselwig met die gerugte dat Sandra eers haar kinders en toe haarself om die lewe gebring het nie.

“Mense sê ook dit kon Lee-Aan gewees het wat die skietwerk gedoen het, en toe haarself. Ek glo dit nie,” het Ryno gesê.

Johan Schwartz (41), Sandra se man, het Woensdag 10 Julie op sy vrou en kinders se lyke afgekom. Hy was glo ten tye van die voorval by die werk. Johan het omstreeks 17:00 by die huis opgedaag. Bure het vroeër aan Netwerk24 vertel hoe hy aan die skree gegaan het en dik rook by die huis uitgeborrel het.

Na verneem word is Sandra, Lee-Ann en Simeon elkeen gevind met ’n koeëlwond in die kop, terwyl Shereé een keer in die kop en een keer in die bors geskiet is.

Lee-Ann is glo onder die ken geskiet en haar lyk is op die rusbank in die sitkamer gekry, is vroeër berig. Die lyke van haar ma en sibbe het glo ’n ent verder op twee matrasse op die vloer gelê.

Op foto’s wat in die huis geneem is, kan gesien word die huis lyk deurmekaar. Voor die voetenent van Sandra en Johan se bed was ’n groot gebrande kol.

In die sitkamer is ook donker kolle waar ’n ander brand ontstaan het.

Intussen het die raaiselagtige omstandighede van hul dood verdiep ná bewerings dat Lee-Ann herhaaldelik deur ’n familielid gemolesteer is.

Netwerk24 het ’n reeks WhatsApp-boodskappe gesien waarin Lee-Ann aan ’n vertroueling skryf: “Hy vat die heeltyd aan my en ek weet nie hoe om vir my ma te sê nie.”

Die boodskappe is aan die polisie oorhandig om hul ondersoek te ondersteun.

Die familie het vroeër aan Netwerk24 gesê hulle is ook bewus van 'n brief waarin Sandra glo melding maak van Lee-Ann se molestering.

Die polisie wou egter nie Vrydag sê tot watter mate die boodskappe en brief deel vorm van hul ondersoek nie.

Kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie gaan in dié stadium geen besonderhede van die ondersoek openbaar maak nie.

Dlamini het gesê die ondersoek na die oorsaak van die dood van al die slagoffers gaan voort.

Meer oor:  Sandra Schwartz  |  Ma  |  Dood  |  Treurspel  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.