Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brakpan-tragedie: Sandra se susters praat

Familielede van die Brakpan-gesin waarvan drie kinders en ’n ma Woensdag dood is, sê hulle kan nie glo dat sy haar kinders sou skiet nie.

Sandra Schwartz (39) se lyk is saam met dié van haar drie kinders, Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10), met koeëlwonde in hul huis in Sallies Village in Brakpan aangetref.

Bure het vertel hoe hulle deur rook oorval is toe hulle die lyke uit die huis wou kry.

“Ek glo nie vir ’n minuut dat Sandra haar kinders en toe haarself doodgeskiet het nie. Waar sou sy in elk geval nog die tyd gehad het om die plek aan die brand te steek?” het Ina van Heerden, suster van Sandra, aan Netwerk24 gesê.

Die foto van Shereé Schwartz, haar sussie Lee-Ann en kleinboet Simeon is ’n aantal jare gelede geneem. Al drie kinders is Woensdag dood in hul ouerhuis in Brakpan aangetref.

Volgens die polisie is Johan Schwartz (41), eggenoot van Sandra, se 9 mm-pistool langs haar lyk op die toneel gekry en word drie sake van moord ondersoek en ’n geregtelike ondersoek (GO) gedoen. ’n Geregtelike ondersoek volg gewoonlik nadat iemand op ’n onnatuurlike manier dood is, soos in ’n geval van selfdood.

Schwartz het volgens ’n buurman wat vroeër met Netwerk24 gepraat het op die lyke afgekom en om hulp geskree.

“Hy was berserk. Hy het dit die heeltyd herhaal dat sy familie dood is. Ek sê toe laat ons net hul lyke uit die huis kry dat hulle nie brand nie,” het Juan Joubert wat saam met nog ’n buurman, Chris van Eeden op die toneel was Vrydag aan Christiaan du Plessis gesê.

Sandra Schwartz is ook met ’n koeëlwond aan die kop aangetref.

Rapport het Sondag berig dat Schwartz Woensdag die hele dag by die werk was en omstreeks 17:25 huis toe is waar hy op die lyke afgekom het.

Samantha Labuschage, sy werkgewer by die Medley House-gastehuis in Brakpan, het hom volgens die koerant as ’n “lojale, stabiele en liefdevolle mens” bestempel wat “lewe vir sy familie”.

“Dit is vir hom verskriklik moeilik om te aanvaar dat sy gesin uitgewis is,” sê sy.

Nog ’n suster van Sandra Linda Hamer (49) beskryf die voorval as “een groot gemors” – iets wat die familie nooit sou verwag nie.

“Ek weet in my hart my sussie het dit nie gedoen nie. Sy het haar seuntjie met alles in haar beskerm,” sê Hamer.

“Dit gaan ’n bietjie rof. Ons is emosioneel só gedreineer.”

Saam met Sandra was hulle agt kinders – nou is hulle sewe.

Familielede het Maandag Sandra en haar kinders se lyke uitgeken.

“Dit was baie erg,” sê Jan Symons, Sandra se swaer.

“Ek wil dit net beklemtoon dat dit nie Sandra was (wat geskiet het nie) nie. Ek weet nie wie dit was nie.”

Hy het Vrydag op die toneel van die voorval aan Netwerk24 gesê Sandra se koeëlwond was bo haar linkeroog.

“Sy was regshandig. Dit maak nie sin nie.”

Geel polisielint het Maandag nog die huis in Modderstraat afgesper.

Johan Schwartz Vrydag buite sy huis in Brakpan waar sy vrou en drie kinders dood is. Foto: Deaan Vivier
Juan Joubert, die buurman wat gehelp het toe Johan Schwartz om hulp geroep het. Foto: Deaan Vivier

Pearly Kroezen, ’n buurvrou, sê die polisie het nog nie ’n verklaring by haar kom afneem nie. Sy het Vrydag aan Netwerk24 gesê sy het die Woensdagoggend gehoor hoe Sandra en een van haar dogters in die tuin stry omdat een van die honde besig was om die bedding om te krap.

Volgens haar het die polisie Maandagoggend weer die huis besoek.

Die bure wat na die gesin se honde omsien word ook nie toegelaat om die erf te betree nie en mag die kos en water net deur die hek druk en daar los.

Kapt. Pearl van Staad, polisiewoordvoerder, het vroeër aan Netwerk24 gesê vier skote is geskiet, maar die bure het niks gehoor nie.

“Die forensiese ondersoek sal twee tot drie weke neem om af te handel. Die dossier is vir verdere ondersoek aan die eenheid vir georganiseerde misdaad oorhandig,” sê Van Staad.

Sandra en haar drie kinders se begrafnis vind op Dinsdag 23 Julie om 12:00 vanuit die NG gemeente Greymont in Randburg plaas. Hulle sal langs mekaar in die Wespark-begraafplaas begrawe word. Simeon was Johan se seun en die twee dogters kom uit ’n vorige verhouding. Hul pa wou nie Maandag met Netwerk24 praat nie.

– Verslagspan: Ischke de Jager, Isabel Venter en Werner Beukes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.