Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrae ná Brakpan-treurspel

Sy het Maandag 16 geword. Woensdag is Lee-Ann Schwartz, haar sussie Shereé (19) en hul kleinboet Simeon (10) in hul ouerhuis in Sallies Village, Brakpan doodgeskiet. Hul ma, Sandra (39) is ook met ’n koeëlwond in die kop aangetref. Vrydag is Johan Schwartz voor die huis op straat deur familie ondersteun nadat hy aan die huil gegaan en op die sypaadjie inmekaar gesak het.

“My hele lewe was in daardie huis,” het hy uitgeroep. Hy wou nie met Netwerk24 praat nie.

Presies wat Woensdag by Modderstraat nommer 3 gebeur het, is deel van ’n polisieondersoek.

Johan Schwartz buite sy huis in Brakpan waar hy sy vrou en drie kinders Woensdag dood aangetref het. Foto: Deaan Vivier
Sandra Schwartz (39).Foto: Verskaf
Shereé Schwartz (19)Foto: Verskaf
Lee-Ann Schwartz, sy het Maandag 16 geword. Foto: Verskaf
Simeon Schwartz (10) Foto: Verskaf
Shereé Schwartz staan langs haar sussie Lee-Ann met hulle kleinboet Simeon voor. Die foto is ’n aantal jare terug geneem. Foto: Facebook

Jan Symons, Sandra se swaer, sê hulle glo nie bespiegelings dat Sandra haar kinders en toe haarself geskiet het nie.

“Die skoot is bo haar linkeroog toegedien, en sy was regshandig. Dit maak nie sin nie. Sy was baie lief vir haar kinders,” sê hy.

Symons wou nie verder kommentaar lewer nie, want die polisie het hom versoek om nie met die media te praat nie.

Bure het aan Netwerk24 vertel Schwartz het Woensdagmiddag omtrent 17:00 aan die skreeu gegaan nadat hy glo by die huis van die werk af aangekom het.

Juan Joubert en Chris van Eeden is van die eerste mense wat gehelp het toe Johan Schwartz om hulp geroep het nadat sy vrou en drie kinders in hul huis in Brakpan dood is. Foto: Deaan Vivier
Chris van Eeden gooi sy hande omhoog oor presies wat in Modderstraat 3 in Sallies Village, Brakpan gebeur het. Hy en Juan Joubert (links) was van die eerste mense wat gereageer het op Johan Schwartz se hulpkrete nadat sy vrou en drie kinders in hul huis dood is. Foto: Deaan Vivier
Johan Schwartz stort ineen buite sy huis in Brakpan waar sy vrou en drie kinders Woensdag dood is. Foto: Deaan Vivier

Die bure het opgedaag om hom te help terwyl rook by die huis uitgeborrel het. Schwartz het in die voordeur gestaan en aanhoudend geskree sy familie is dood.

“Hy was berserk. Hy het heeltyd dit herhaal dat sy familie dood is. Ek sê toe laat ons net hulle lyke uit die huis kry dat hulle nie brand nie,” sê Juan Joubert wat saam met nog ’n buurman, Chris van Eeden op die toneel was.

Terwyl Schwartz ’n ent weggestap het om die ambulans te bel, kon albei ingaan.

Volgens Van Eeden kon hy byna niks sien nie weens die digte rook in die huis.

Forensiese ondersoekers en ’n snuffelhond Vrydag by die Schwartz-woning in Brakpan. Foto: Deaan Vivier

“Naby aan die vloer was die rook egter nie so dig nie, en ek kon vaagweg drie mense op die vloer uitmaak.

“Die rook was so erg dat ek by die vensters uit moes asemhaal,” sê Joubert, wat vermoed die brand het in die slaapkamer begin. Hy was soontoe om van die besittings uit die brand te probeer red.

Pearly Kroezen, ’n buurvrou, sê die afgelope drie weke was die gordyne van die huis asook die vensters toegetrek.

“Dit was vreemd, want gewoonlik het ons elke oggend gehoor hoe die vensters oopgaan,” sê sy.

Johan Schwartz (links) en sy swaer Jan Symons. Foto: Deaan Vivier

Sy sê het gehoor hoe Sandra en een van haar dogters die oggend in die tuin ’n woordewisseling gehad het omdat een van die honde besig was om die bedding om te krap.

“Sandra was maar ’n eenkant mens. Ons het gereeld gehoor hoe sy met haar kinders baklei. ’n Maand gelede het hulle so tekere gegaan dat ons die polisie gebel het,” sê Kroezen.

Volgens haar het Schwartz gereeld met sy kinders in die tuin gespeel en saam met sy seun bal geskop.

Hoewel die polisie sê vier skote is afgevuur, het nie Kroezen, Joubert of Van Eeden skote gehoor nie.

Met Netwerk24 se besoek aan die huis Vrydag, was die polisie en forensiese ondersoekers weer op die afgesperde toneel.

Andrea Küssel berig kapt. Pearl van Staad, polisiewoordvoerder, sê die polisie kon nog nie die motief vir die moorde bepaal nie. Van Staad sê die polisie ondersoek drie aanklagte van moord en doen een geregtelike ondersoek. Sy sê ook die dossier is aan die eenheid vir georganiseerde misdaad oorhandig.

“Die forensiese ondersoek sal twee tot drie weke neem om af te handel, waarna ons meer inligting oor die sterftes sal hê,” sê sy.

Johan Schwartz word bygestaan buite sy huis in Brakpan waar sy vrou en drie kinders dood is. Foto: Deaan Vivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.