Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brakpan wys hy het ’n plan met dwelms

’n Familie moenie ’n dwelmverslaafde wegwys nie, maar hom eerder ondersteun en aanmoedig om hulp te kry.

’n Paar van die honderde betogers wat Vrydag teen dwelmmisbruik opgeruk het. Foto’s: JEANELLE GREYLING

Dít was die boodskap wat maatskaplike werkers en gerehabiliteerde dwelmverslaafdes Vrydag tydens ’n gesprek oor dwelmmisbruik in Brakpan, Ekurhuleni, gesê het.

“Die oomblik wat jy ’n verslaafde wegjaag, maak jy sy probleem ’n maatskaplike probleem,” het Lindiwe Khonjelwayo, hoof van die Ekurhuleni-metro se afdeling vir vroue, kinders en mense met gestremdhede, gesê.

Voor die gesprek het honderde inwoners vroegoggend van die taxistaanplek op die hoek van Voortrekkerweg en Station-straat na die Assembly of God Fellowship teen dwelmmisbruik opgeruk. Baie van die betogers was leerlinge wat aan dwelms verslaaf is en dwelmverslaafdes wat aan die herstel is.

Benewens die Ekurhuleni-metro en die Brakpan-polisiekantoor het die Brakpan-gemeenskapspolisiëringsforum, die departement van gemeenskapsveiligheid, die Witpoort-rehabilitasiesentrum, die New Life-rehabilitasiesentrum, die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad teen Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca), die departement van gesondheid en Siyabonga Africa aan die gesprek deelgeneem.

Toe iemand vra hoe die polisie sy korrupte lede hanteer, het kapt. Pearl van Staad, woordvoerder van die Brakpan-polisiekantoor, gesê jy kan nie net vingers wys nie.

“Jy moet beduidende bewyse hê dat die lid korrup is. Daarsonder kan ons nie teen hom optree nie.”

Volgens Khonjelwayo is baie polisielede korrup, maar die maatskaplike werkers is ook skuldig, omdat hulle dikwels nie genoeg doen om die verslaafdes te help nie.

“Die maatskaplike werkers is te gereeld in die kantoor. Hulle weet nie wat in die gebied aangaan nie. Die voorvalle moet opgevolg word. Die polisie en maatskaplike werkers moet uitvind waar die verslaafdes hul dwelms kry en die probleem stopsit.”

Die meerderheid mense wie se vaardighede ontwikkel is, is tans werkende mense.

Hoe help jy?

Volgens Khonjelwayo moet families van verslaafdes by die maatskaplike werkers aanklop, aangesien die metro voorsiening maak vir dwelmbestryding en -rehabilitasie.

Dit is veral belangrik dat gerehabiliteerde verslaafdes se vaardighede ontwikkel word om te verhoed dat hulle weer dwelms gebruik.

Carol Mofokeng, ’n maatskaplike werker by Siyabonga Africa, het vertel dié organisasie sonder winsbejag help die dwelmverslaafdes om hul lewe weer op dreef te kry.

Kapt. Pearl van Staad, woordvoerder van die Brakpan-polisiekantoor, tydens die gesprek oor dwelmmisbruik.
Lindiwe Khonjelwayo, hoof van die Ekurhuleni-metro se afdeling vir vroue, kinders en mense met gestremdhede.
Carol Mofokeng, ’n maatskaplike werker by Siyabonga Africa.

“Ons gee nie vir hulle werk nie, maar ons ontwikkel hul vaardighede,” sê Mofokeng.

“Die meerderheid mense wie se vaardighede ontwikkel is, is tans werkende mense.”

Die organisasie bou ’n verhouding met hawelose mense op en help hulle ook op ander vlakke.

“Ons gee vir hulle kos en vra hulle oor hulself uit. Ons bied vir hulle ’n stort en gee vir hulle klere. Ons bel hul families om vir hulle te sê hulle is nog lewendig,” sê Mofokeng.

Ná die verhouding gebou is, moedig hulle die verslaafdes aan om vir rehabilitasie te gaan en herenig die verslaafdes met hul families.

  • Indien jy vrywilligheidswerk by Siyabonga Africa wil doen, kan jy 011 744 4350 skakel.
Meer oor:  Brakpan  |  Dwelms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.