Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brandbestryder verloor vingerpunte ná Tafelberg-brand

Die brandweerman wys die letsels aan sy linkerarm. Foto: Jaco Marais

’n Brandweerman van Eersterivier, Kaapstad, moet nou by ’n splinternuwe leefwyse aanpas nadat hy ernstige brandwonde opgedoen het in die Tafelberg-brand vroeër vanjaar en sedertdien in die hospitaal was.

Die brandweerman, wat nie geïdentifiseer wil word nie, is Woensdag uit die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal ontslaan nadat hy in April brandwonde oor omtrent 17% van sy liggaam opgedoen het. Hy is beseer terwyl hy gehelp het om die brand te bestry wat op 18 April gestig is, glo deur ’n persoon in ’n voertuig.

Die owerhede is steeds op soek na die persoon wie se optrede ernstige skade aan private eiendom en eiendom van die Universiteit van Kaapstad aangerig het en 650 ha veld verwoes het.

Die susters in die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal sing vir die brandpasiënt wat Woensdag ontslaan is. Foto: Jaco Marais

Dié brandbestryder was een van ses wat in die brand beseer is en het vier maande in die hospitaal deurgebring waar hy ongeveer 30 operasies ondergaan het. Hy het brandwonde aan sy kop, gesig en albei arms opgedoen, sê dr. Ian Koller, die ortopediese chirurg wat hom behandel het. Hy is deur dr. Denis Allard, traumachirurg, bygestaan.

Die brandweerman het sommige van sy vingerpunte verloor, hoewel hy steeds sy vingers kan beweeg en sensasie in sy hande het. Sy duime het nie baie seergekry nie.

“Hy is ’n groot gesinsman en was vasberade om terug te keer huis toe na sy kinders, wat hy weens Covid-19-regulasies voor die voorval laas gesien het,” sê Koller.

“Hy is ’n vegter en het ons werk baie makliker gemaak. Dit was ’n baie bevredigende ondervinding om hom te help herstel en hy gaan in die hospitaal gemis word.”

Die brandbestryder se behandeling is ver van klaar aangesien hy nog verskeie kere terapie moet ontvang. Hy moet ook teen Covid-19 ingeënt word.

Koller sê dit het enorme spanwerk gekos om te keer dat die brandweerman sy vingers verloor.

“Dit het aanvanklik gelyk asof sy vingers nie gered sou kon word nie omdat die agterkant van sy hande so erg gebrand het dat die been op sommige plekke sigbaar was,” sê Koller.

Die chirurge het gebruik gemaak van ’n peperduur vlies om vel te regenereer. Dié vlies se buitenste laag is van dun silikoon gemaak wat as vel dien. Dit beskerm die wond teen infeksie en beheer die verlies van hitte en vog.

Die binneste laag is uit komplekse vesels met kollageen saamgestel wat die hergroei van selle aanhelp sodat ’n veloorplanting moontlik kan wees.

Sodra die vel homself regenereer word die buitenste silikoonlaag verwyder en word ’n dun laag vel oorgeplant.

“Dit het beter gewerk as wat ons ooit sou kon droom,” sê Koller.

Die brandweerman het verbande om sy vingers om te keer dat daar skade aan sy veloorplantings plaasvind. Dit is egter nie meer rou wonde nie. Foto: Jaco Marais

Die brandweerman, pa van kinders van onderskeidelik 13 en 18 jaar oud, kan sy vingers beweeg, het gevoel in sy hande en kan voorwerpe soos ’n tandeborsel en mes en vurk in sy hande vashou.

“Dit sou nie moontlik gewees het sonder die harde werk van sy fisioterapeut nie. Hy moes sy vingers gereeld beweeg om te keer dat sy hande styf trek,” sê Koller.

“Sy voedingskundige was ook ’n integrale deel van die span, want as hy nie ’n goeie hoëproteïendieet gevolg het nie, sou hy waarskynlik nie sterk genoeg gewees het om die infeksie te beveg nie.”

Die brandweerman het verskeie veloorplantings ondergaan en kon die infeksie oorwin. Hy het ook Covid-19 vrygespring. Verder is sy sig en gehoor nie aangetas nie, ondanks ernstige wonde aan sy gesig.

Koller sê die brandbestryder se behandeling is ver van klaar aangesien hy nog verskeie kere terapie moet ontvang. Hy moet ook teen Covid-19 ingeënt word.

Die pasiënt het baie geheg geraak aan die dokters en verpleegpersoneel wat hom die afgelope maande in die hospitaal bygestaan het. Luide sang het in die hospitaal opgeklink toe hy ontslaan is en die verpleegpersoneel het hom met ballonne in die hand gegroet.

“Ons is baie bly dat die brandweerman op die herstelpad is,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die Kaapstad-metro.

“Die metro sal voortgaan om sy ondersteuning aan te bied en wens die brandweerman sterkte toe met die volgende fase van sy herstelproses.”

Meer oor:  Brandbestryders  |  Brandbestryding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.