Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brandweer reageer snel, maar huis in Bfn brand steeds af

’n Verwoestende brand wat vermoedelik deur ’n kers veroorsaak is, het ’n woonhuis in Raymond Mhlaba-straat in Bloemfontein bykans in puin gelê.

Die huisinhoud is in die brand verwoes, en ’n hond is ook vrek.

Die Bloemfonteinse brandweer het egter Dinsdagaand flink gereageer en was gou op die toneel om die brand te blus.

Vanessa van Driessel (49) in die uitgebrande huis in Raymond Mhlaba-straat in Bloemfontein. Sy weier om te trek, ondanks die brandskade.Foto: Mlungisi Louw

Dít ondanks die waterdispute tussen die metro en Bloemwater wat meegebring het dat waterlewering aan die metro Dinsdagaand steeds net 30% was, sê Pieter Lotriet, DA-raadslid, wat ook gou op die toneel was.

Braam van Zyl, afdelingsbeampte van die metro se brandweer, sê die brandweer het met ’n brandweerwa en tenker op die toneel opgedaag en kon die brand blus en keer dat dit versprei. Nog water is later gaan haal.

Lotriet sê sake kon veel erger uitgedraai het, omdat die waterdruk op die erf laag was.

“Niemand verreken die veiligheid van mense in die waterdispute tussen die metro en Bloemwater nie.”

Vanessa van Driessel (49) was Woensdag steeds geskok nadat die huis waarin sy bly Dinsdagaand deur ’n vlammehel verwoes is. Sy wil egter steeds daar bly. Foto: Mlungisi Louw

’n Huisbewoner, Vanessa van Driessel (49), suster van die eienaar, Kevin van Driessel, sê ’n kers wat ’n ander huurder in die huis laat brand het, het vermoedelik die brand veroorsaak.

Sy en haar lewensmaat, Jacques Swanepoel (55), woon in die huis saam met dié huurder.

Vanessa sê benewens hulle drie wat vir hul lewe voor die brandende vlamme moes vlug, is daar ook ’n klompie ander mense wat in die agterplaas bly.

“Die brand het gelukkig nie tot daar versprei nie.”

* Vanessa sê hulle weier om te trek, ondanks die skade aan die huis.

“Ek het lewensreg om in die huis te bly,” het Vanessa Woensdag aanhoudend gesê terwyl sy oor die swart verbrande meubels en kledingstukke in die huis geklim het.

“Ek sit my voet neer. Trek, trek ek nié,” het sy gesê terwyl sy na brandmerke aan haar bene gewys het.

Omstanders kyk hoe die huis in Raymond Mhlaba-straat Dinsdagaand afbrand. Foto: Verskaf

Vanessa is ontsteld omdat Kevin kom sê het hy gaan die huis sloop en sal vir haar R130 000 gee.

Swanepoel sê ook hulle gaan nie trek nie.

Pieter Lotriet, DA-raadslid van die Mangaung-metro, wat hulp gaan verleen het by die huis in Raymond Mhlaba-straat in Bloemfontein wat Dinsdagaand afgebrand het. Foto: Verskaf

“ ’n Waardeerder het Vanessa se ma 13 jaar gelede nog sowat R700 000 vir die huis aangebied.”

Hy was matte vir ’n lewe en sy is sy persoonlike assistent.

Die lewe lyk nou baie donker vir hulle. “Al ons klere en huisraad het uitgebrand. Ons het niks meer oor nie.”

Lotriet sê dit was vermoedelik vroeër jare ’n statige huis, maar was verwaarloos toe dit Dinsdagaand grootliks verwoes is.

Hy sê die huis het nie elektrisiteit gehad nie.

Lotriet het ’n welsynsinstansie gebel om na die mense om te sien.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Brandweer  |  Gesinshuis  |  Huisbrand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.