Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Breinkanker eis bekroonde joernalis

Wolfram Zwecker – die joernalis se joernalis.

Só beskryf Jo Prins, Netwerk24 se boekeredakteur, Zwecker (62), ’n bekroonde oudjoernalis van Beeld, wat Maandagaand aan breinkanker dood is.

Zwecker het 34 jaar by Beeld gewerk en het in 2016 afgetree.

Sy vrou, Louna, sê glioblastoma, ’n aggressiewe breinkanker, is einde September by hom gediagnoseer.

Wolfram Zwecker (62), oud-joernalis van Beeld is Maandag in sy huis in Alberton dood. Foto: Verskaf

Hy is in Oktober in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton geopereer, maar dokters kon net ’n deel van die gewas verwyder. Die kanker was te ver gevorder om bestraling of chemoterapie te ondergaan.

“Hy is Maandagaand uit sy lyding gered. Hy is by die huis dood en was die afgelope tyd in geweldige pyn. Ek is dankbaar dat hy verlos is daarvan. Dit gee my ’n mate van vertroosting,” sê Louna, wat 36 jaar met Zwecker getroud was.

Sy skielike siekte was ’n skok vir sy gesin, veral omdat hy in Maart nog perdfris was en die Argus-fietswedren voltooi het.

“Hy was ongelooflik intelligent en het omgegee vir mense wat swaarkry,” sê Louna.

Zwecker het in 1982 by Beeld begin werk en oor ’n verskeidenheid onderwerpe berig.

Marga Ley, ’n tuisredakteur van Netwerk24 en ’n oud-adjunkredakteur van Beeld, sê Zwecker was op 27 Maart 1985 met die Westdene-busramp, binne ’n halfuur op die toneel.

“Hy het later geskryf die gebeure van daardie dag was soos wanneer jy ’n naam op ’n boom uitkrap – dit groei toe, maar die litteken bly. Hy het vertel hoe hy die reuk van die dam en die modderwater onthou.”

Zwecker het in 2000 die Nat Nakasa-prys van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ontvang vir sy ondersoekende berigte oor korrupsie by die Burgerlugvaartowerheid (BLO). Die prys word toegeken aan joernaliste wat buitengewone dapperheid en integriteit in hul werk toon.

Sanef het Zwecker se berigte van nasionale belang geag, omdat dit aan die lig gebring het dat vlieëniers hul vlieglisensies kon koop.

“Hy het met integriteit en persoonlike waagmoed opgetree, ondanks ontsettende druk en anonieme dreigemente,” lui ’n Sanef-dokument.

Zwecker was passievol oor die omgewing, sê Elise Tempelhoff, ’n omgewingsjoernalis.

“Hy het my alles geleer oor die binnewerkinge van die Konvensie vir die handel in bedreigde fauna en flora (Cites).

Eugene Yssel, ’n oudkollega van Zwecker, sê hy “kon nuusstories optel deur bloot die beweging van vliegtuie dop te hou. Só het hy stories oor die smokkel van bedreigde spesies ontbloot.”

Yssel sê hy het sy anonieme bronne ten alle koste beskerm. “Hy was ook die een mens wat met ’n registrasienommer kon vasstel aan wie ’n voertuig behoort, wanneer dit saak gemaak het vir nuusberigte. Hy wou egter nooit sê hoe hy dit reggekry het nie.”

Yssel sê Zwecker was altyd reg met ’n grappie of ’n kwinkslag. Hy het hom in Oktober kort voor sy operasie besoek.

“Hulle gaan my kop oopsny. Sal nou uiteindelik weet of daar iets in is,” het hy met ’n glinster in die oog gesê, sê Yssel.

Zwecker word oorleef deur Louna en hul twee kinders, Daniella Zwecker-Pienaar (29) en Jürgen Zwecker (26). Hy word Donderdag om 15:00 uit die Lutherse kerk in Piercylaan, Germiston, begrawe.

Meer oor:  Wolfram Zwecker  |  Breinkanker  |  Joernalis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.