Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Breyten lei nuwe drukgroep oor taal
’n Drukgroep vir die behoud van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) onder leiding van die digter Breyten Breytenbach is Dinsdag in die lewe geroep. Foto: Nasief Manie

’n Drukgroep vir die behoud van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) onder leiding van die digter Breyten Breytenbach is Dinsdag in die lewe geroep.

Die groep, wat as Gelyke Kanse bekend staan, is deur verskeie prominente Afrikaanse figure gestig wat meen ’n vaste, volwaardige en volhoubare aanbod in Afrikaans aan die US is “ononderhandelbaar”.

Die stigterlede sluit in, benewens Breytenbach, die historikus prof. Herman Giliomee, prof. Flip Smit, oudrektor van die Universiteit van Pretoria, prof. Christo Viljoen, vorige president van die US-konvokasie, die skrywer Braam de Vries, adv. Jan Heunis, huidige president van die konvokasie, en Ebbe Dommisse, oudredakteur van Die Burger.

“Dis ’n kwade dag wanneer daar in die openbaar gepleit moet word vir die erkenning en versterking van diversiteit en vir die effektiewe behoud van veelvuldigheid as onderskraging van die gedeelde, oorkoepelende waardes waarop Suid-Afrika se Grondwet berus,” skryf Breytenbach in ’n ope brief aan prof. Wim de Villiers, US-rektor, op die groep se webtuiste.

“Veeltaligheid is ’n voorreg en ’n kans. Trouens, die US behoort die leidende rol te kan neem in die ontwikkeling en bevordering van ander inheemse tale, en om mee te begin die tale wat in die streek aanwesig is en gebruik word en waarvoor daar praktiese behoeftes bestaan.”

Dit is nou die tyd om moedig, kreatief, vindingryk, onbevooroordeeld en inklusief te wees.

Die groep het ’n beswaarskrif opgetrek wat die besware teen die US se voorgestelde nuwe taalbeleid verwoord en wat lede van die publiek op hul webtuiste kan onderteken.

Danie Rossouw, ’n prokureur wat as koördineerder vir die groep dien, verduidelik: “Ons mik met die digitale ruimte om die mobilisering vir die behoud van Afrikaans op die US-kampus nie net tot die howe en akademici te beperk nie, maar om ook die breë publiek te betrek.

“Die taaldebat op vele universiteitskampusse, maar in die besonder by die US, is om verskeie redes van breë openbare belang.”

Gelyke Kanse is gestig na aanleiding van die US se onlangse erkentenis in hofstukke dat hy reeds sedert die begin van die jaar in 268 modules in altesaam sewe fakulteite van die taalbeleid afwyk wat, breedweg, gelykberegtiging tussen Afrikaans en Engels as primêre tale van onderrig vereis.

AfriForum Jeug het sedertdien ’n tussentydse hofbevel van die Wes-Kaapse hooggeregshof bekom om die US te verplig om sy taalbeleid toe te pas.

Intussen is daar ook ’n onafhanklike ondersoek na afwykings van die taalbeleid, wat deur die raad gelas is.

Die US het in Februarie met ’n proses van openbare deelname begin vir ’n voorgestelde nuwe taalbeleid.

Die drukgroep sal breedvoerig namens diegene wat die beswaarskrif onderteken hierop kommentaar lewer.

Ander prominente figure wat die inisiatief ondersteun, sluit in Dominique Enthoven (vroeër van die Vrystaat), raadslid van die Afrikasentrum, Rhoda Kadalie, stigter van die Geslagsgelykheideenheid, die digter John Miles, die skrywer Danie Marais en dr. Sonja Loots, ’n dosent in Afrikaans en Nederlands aan die US.

“Dit is nou die tyd om moedig, kreatief, vindingryk, onbevooroordeeld en inklusief te wees,” moedig Breytenbach die publiek aan om deel van die inisiatief te wees.

Meer oor:  Breyten Breytenbach  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.